GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Wonings in Groot-Brakrivier het die afgelope tyd deurgeloop tydens huisinbrake. In die week van 29 September is agt huisbraak- en diefstalsake by die plaaslike polisie gerapporteer.
Volgens die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais, is die verdagtes se werkwyse om wonings se vensters uit te haal, of gaatjies in houtvensterrame te boor en dan so toegang tot wonings te verkry.
"Ons versoek inwoners van Tergniet, Rheebok, Hersham en Pienaarstrand om verdagte voertuie of persone wat in die omgewing opgemerk word, onmiddelik aan die polisie te rapporteer."
Volgens Marais het die agt huisinbrake tussen 01:00 en 05:00 plaasgevind. "Die verdagtes gebruik vermoedelik 'n swart Toyota Fortuner, met 'n leer wat op die voertuig se dak vasgemaak is. Hulle laai dan verdagtes af in 'n spesifieke straat en laai die verdagtes weer op. Items wat gesteel word is, skootrekenaars, selfone en televisies."
Die polisie versoek die publiek om 'n volledige beskrywings van verdagte voertuie, die jaar, model, kleur, registrasienommers, die rigting waarin die voertuig of persone beweeg asook volledige beskrywing van verdagte persone te rapporteer. "Hoe meer inligting u aan die polisie kan verskaf, hoe meer effektief kan die polisie optree."
Adjudant-offisier Boekies Kotze, speurhoof van die polisie op Groot-Brakrivier, doen 'n beroep op alle huiseienaars in die geteisterde gebiede om by dubbelverdiepingwonings die alarm snags ook op die boonste vloer te aktiveer.
Inwoners van Groot-Brakrivier kan die volgende noodnommers skakel: Groot-Brakrivier-polisiestasie (044 620 3361) of die sektorfoon (082 820 7810).
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'