Update
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Mosselbaai het die afgelope week met skok van die grusame moord op die 27-jarige Kirsty Eugenie James verneem.
Kirsty is deur 'n 32-jarige vrou op Maandag, 17 Oktober verskeie kere met 'n mes by haar kantoor by NDK Valuers in Springstraat gesteek. Die voorval het vermoedelik tussen 15:30 en 16:00 plaasgevind.
Kirsty was ten tye van die aanval alleen op die perseel maar het vermoedelik 'n voorgevoel gehad dat alles nie pluis is nie. Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat Kirsty kort voor die aanval 'n vriendin gebel en gevra het dat sy tot by die kantoor moet kom omdat die verdagte glo vreemd opgetree het. Sy en die verdagte was boesemvriendinne.
Die verdagte, Fallon Edwards, 'n ma van twee jong kinders, het na wat verneem word, soms ook werk vir die besigheid gedoen maar was nie voltyds aangestel nie. "Kirsty sou haar ingelaat het want sy het haar vertrou," het Kirsty se ma, Marion Bruinders aan die Advertiser gesê.
Marion woon in Heiderand en sê sy het op die betrokke middag 'n oproep gekry dat sy na NDK Valuers moet gaan omdat haar dogter aangeval is.
"Toe ek daar aankom het ek oral bloed gesien. Kirsty het eenkant op die vloer gelê. Daar was wattebolle oor haar oë en ek het eers gedink dat haar oë uitgesteek is maar die paramedici het vir my verduidelik dat hulle dit daar gesit het sodat die bloed nie in haar oë moet drup nie."
Laaste woorde
Volgens Marion het Kirsty nog kort voordat sy dood is met haar gepraat. Hulle het haar op 'n draagbaar getel en sy het gesê: "I love you mommy, I love you mommy, I love you mommy." Marion vermoed dit was Kirsty se laaste woorde. Sy is met haar aankoms by die Mosselbaai-provinsiale hospitaal dood verklaar.
Kirsty was 'n oudleerder van Milkwood Primêre skool en het haar skoolloopbaan by Hoërskool Punt voltooi.
Sy was die ma van 'n dogtertjie wat binnekort drie jaar oud word. Sy en die pa van haar kind, Monré Josias was vir etlike jare in 'n verhouding.
Familielede sê Marion en Kirsty was onafskeidbaar. Marion sê Kirsty het 'n sagte hart gehad en was 'n positiewe mens wat haar altyd oor ander mense ontferm het. Marion ken verlies. "Ek het my pa verloor en 'n paar dae later my man. Maar hierdie is anders," sê sy. "Toe was ek kalm."
Marion Bruinders en haar dogter Kirsty James was onafskeidbaar.
Kirsty word oorleef deur haar ma, Marion, haar pa, Eugene Duthie en haar dogter, Alyiah.
Edwards het op Donderdag, 20 Oktober haar eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak.
Die saak is uitgestel na 31 Oktober vir 'n formele borgaansoek. Edwards bly in aanhouding.
Vorige berigte:
- Verdagte in moordsaak maak eerste verskyning
- Vrou wat met mes doodgesteek is geïdentifiseer
- Vrou sterf na mesaanval by kantoor
Die eienaars van NDK Valuers was ten tye van die moord uitstedig maar het intussen na Mosselbaai teruggekeer.
Die perseel van NDK Valuers waar die 27-jarige Kirsty James wreed vermoor is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'