MOSSELBAAI NUUS - Twee werknemers van Cape Nature het gister, op Maandag, 21 Junie op die voertuig wat aan die vermiste Julius Verhoog (68) behoort, afgekom.
Verhoog, ‘n inwoner van Island View op Mosselbaai, het op 28 Februarie vanjaar vermis geraak en is laas in sy grys Citroen met registrasienommer CBS 52389 gesien en was sedertdien vermis.
Die twee werknemers, Bruney Plaatjies en Richard James het omstreeks 11:00 patrollie by die Robinsonpas op die R328 gedoen, toe hulle die wrak van ‘n voertuig in die kloof sien.
Dit is ongeveer 42km van Mosselbaai. By nadere ondersoek het hulle vasgestel daar is ‘n liggaam in die voertuig vasgekeer. Plaatjies en James het die polisie ontbied.
Da Gamaskop polisiewoordvoerder, Kaptein Wollie Fourie, sê nooddienste is ook na die gebied ontplooi sodat die liggaam uit die wrak verwyder kon word. “’n Dossier vir ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.”
Fourie sê DNS-toetse sal gedoen word, asook ‘n lykskouing om die identiteit van die oorledene te bepaal.
Polisiebeamptes op die toneel waar Julius Verhoog se voertuig gevind is.
Die wrak van die voertuig waarin Julius Verhoog laas gesien is, is onder in die kloof by die Robinsonpas ontdek.
LEES: Man verdwyn soos mis voor die son
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'