Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Liggaam wat op Dinsdag, 16 Maart by Leisure Isle op Knysna uitgespoel het, het reddingspanne wat steeds daagliks onverpoos na die 70-jarige Petrus Groenewalt van Hartenbos en die 68-jarige Julius Verhoog van Island View, Mosselbaai soek, vir 'n oomblik laat dink dat dit dalk een van die vermiste mans is.
Dit was egter nie die liggaam van Groenewalt of Verhoog nie, maar wel dié van 'n inwoner van Knysna.
Ondanks 'n uitgebreide soektog is daar steeds geen teken van Groenewalt, wat laas op Dinsdag, 9 Maart deur sy vrou gesien is toe hy hul huis op Hartenbos in sy wit Toyota Hilux-bakkie verlaat het. Groenewalt se bakkie is die volgende dag verlate langs die pad by Saasveld in George gevind.
Die polisie, 'n snuffelhond, lede van Working on Fire en die Wildernis-reddingseenheid soek steeds daagliks in die gebied, maar kon nog geen teken van Groenwalt vind nie.
Net so is daar steeds geen taal of tyding van die vermiste Verhoog, wat laas op 28 Februarie in sy grys Citroën op Mosselbaai gesien is, nadat hy sy woning by Island View verlaat het nie.
Op Woensdag, 17 Maart het die polisie met die hulp van 'n hommeltuig die soektog in die Saasveld-gebied voortgesit.
Die polisie doen 'n beroep op enige ooggetuies of inwoners wat dalk die Citroën met registrasienommer CBS 52389 sien, om die ondersoekbeampte in die saak, kapt Carl Cornelius te kontak (079 879 9003).
Petrus Groenewalt (70).
Die pad waar Petrus Groenewalt se bakkie verlate gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'