MOSSELBAAI NUUS - Sewe mans van die Mosselbaai korrektiewe jeugsentrum het op Maandag, 13 November in die Mosselbaai-landdroshof verskyn nadat hulle na bewering 'n mede-gevangene om die beurt verkrag het.
Hoewel besonderhede van die voorval vaag is, het die woordvoerder van korrektiewe dienste in die Suid-Kaap, Johan Pienaar aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat daar wel so 'n voorval aangemeld is. Volgens Pienaar sal die voorval ook intern ondersoek word.
Die 20-jarige slagoffer het 'n klag van verkragting by die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai gelê. Die slagoffer beweer dat hy tydens die naweek van 12 November deur die sewe verdagtes vasgedruk is in 'n aanhoudingsel wat hy met hulle deel.
Die slagoffer is na die voorval medies ondersoek.
'n Ingeligte bron van die polisie het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die voorval is heel waarskynlik bendeverwant. Volgens die bron hang die bendelede dikwels 'n laken voor die toneel waar die verkragting plaasvind wat die res van die gevangenis verhoed om die verkragting te aanskou.
"Daar is dan dikwels in sulke gevalle nie ooggetuies nie." Dit is nie bekend vir watter misdrywe die verdagtes tans in die jeugsentrum is nie, maar al sewe staar nou ook aanklagte van verkragting in die gesig.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'