MOSSELBAAI NUUS - Inwoners gaan binnekort heelwat verwikkelinge met padwerke in die omgewing van die Mosselbaai Mall sien.
Konstruksiewerk aan die nuwe toegangsroete na die landdroshof sal later vandeesmaand begin wanneer die kontrakteur op terrein vestig.
Die konstruksiewerk sal na raming sowat ses maande duur en die werk aan hierdie fase van die beplanning behoort teen einde November voltooi te wees.
Die werk behels die verlenging van die bestaande munisipale grenspad aan die suidekant van die Mosselbaai Mall om aan te sluit by die bestaande grenspad aan die westekant van die begraafplaas, wat tot munisipale standaardstraat opgegradeer sal word.
Hierdie nuwe roete sal uiteindelik toegang na die landdroshof bied vanuit die suid-westelike rigting deur die begraafplaas.
Die projek sal hopelik mettertyd 'n einde maak aan die geskiedkundige, onwettige en onveilige toegang na die landdroshof vanuit Louis Fourieweg. Inwoners vra jarelank reeds dat hierdie toegang, waar verskeie ongelukke groot skade tot gevolg gehad het, gesluit moet word.
Sirkel in Melkhoutstraat
Om verkeersvloei te vergemaklik in Melkhoutlaan, waar verkeersdrukte veral oor vakansietye inwoners baie verontrief, word eersdaags begin met die konstruksie van 'n sirkel soortgelyk as die een in Mosselstraat.
As deel van 'n dienste-ooreenkoms met die Curro-groep, sal die Mosselbaai-munisipaliteit slegs sowat 'n kwart van die koste van die konstruksie delg, en word die sirkel deur Curro opgerig.
'n Skematiese voorstelling van die sirkel wat vir Melkhoutstaart en Sederstraat beplan word. Bouwerk sal eersdaags begin.
'n Skematiese uiteensetting van die voorgenome nuwe toegang na die landdroshof. Bouwerk aan die gedeelte waarvoor die munisipaliteit verantwoordelik sal wees, begin eersdaags.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'