TUINROETE NUUS - Met die gewilde departement sport en rekreasie se Highgate Oudtshoorn interprovinsiale tweekampbyeenkoms op hande, het Dave van der Wald, woordvoerder vir Eden Tweekamp se visie onderstreep.
Die byeenkoms vind op Saterdag, 2 Februarie plaas."Die visie van Eden Tweekamp is om meer as net ‘n geleentheid te bied om aan sport deel te neem. Dit streef daarna om vir deelnemers 'n lewenswyse te help skep. Vir baie jare later wil tweekamp sien dat daar nog gehardloop en geswem word, maak nie saak of die persoon op Pofadder of in Pretoria woon nie."
Tweekamp bestaan uit swembadswem (25m, 50m of 100m) en baanhardloop (400m tot 1 600m). By tweekamp word die tyd behaal in beide die swem en hardloop in punte omskakel (deur middel van 'n gestandaardiseerde puntetabel) en dan bymekaar getel vir die totaal.
Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken (ongeveer 15 punte per jaar) vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum. 2 000 punte word beskou as ‘n billike punt om in aanmerking vir ‘n provinsiale span te kom (vyf per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem.
Die ouderdomsgroepe is: o/8, o/9, o/11, o/13, o/15, o/17, o/19, senior of ope (enige ouderdom), junior veterane (27-39), veterane (40-49), senior veterane (50-59 jaar) en meesters (60+). Die SA kampioenskap maak ook nou voorsiening vanaf o/9.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April en die ouderdomsgroep word as volg bepaal: die ouderdom wat die atleet op 31 Augustus is, bepaal sy deelname ouderdomsgroep vir die res van die seisoen.
"Tweekamp is ‘n sportsoort wat geweldig baie bied vir die deelnemer en betrek die hele gesin. Dit is ‘n sportsoort wat nie tydgebonde is nie – daar is deelnemers wat tot 80 jaar oud word."
Highgate Volstruisvertoonplaas is die amptelike borg van Eden Tweekamp en die tradisionele Highgate Interprovinsiaal waar agt provinsies deelneem.
Vir enige navrae kan Dave van der Walt (082 773 4901) gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'