Die bekende multi-platinum sanger, Gerrie Pretorius, en die Pasella aanbieder, Dieter Voigt, verskil net een jaar. As tjokkertjie het Gerrie vir die Laerskool Vorentoe op Groot Brak rugby gespeel teen Dieter, wat weer vir die Laerskool Park uitgedraf het. Later was hulle albei leerders aan die Hoërskool Punt, waar Dieter in standard nege was toe Gerrie sy matriekeksamen in 1995 geskryf het.
Pasella het besluit om dié twee se spore op Mosselbaai na te volg en so het hulle verlede week die skool besoek en ook 'n wedstryd van Punt se eerste rugbyspan teen 'n besoekende span van Argentinië bygewoon. Die twee manne het trots aan die spelers hulle truie oorhandig.
Gerrie en Dieter het vroegoggend 'n draai met Lady Di, Gerrie se 1963 Mercedes Benz om die Punt gaan ry. Soos wafferse kinders het hulle eers daar gestop om elkeen 'n heerlike draairoomysse te eet, voordat hulle vir 'n ontbyt vasgeval het.
Die televisiespan het ook in Gerrie se huis in Hoogstraat verfilm en daarna moes die sanger uithaal en wys dat hy nie net mal is oor Mosselbaai en die see nie, maar inderdaad ook 'n 'giftige' seekospot kan maak!
Hierdie pot met 'n magdom verskillende seekosse - en 'n paar geheime bestanddele - het inderdaad die besoekers aan Kaai4 hul lippe laat aflek. Sean en Cecile Megannon, wat die restaurant bedryf, het gesorg dat die vuur gestook, die bestanddele opgekap en die nodige hulp byderhand was.
Volgens Gerrie is die seekospot 'n ou familieresep wat hy oor die jare vervolmaak het en waarop hy besonders trots is. Dis dan ook 'n voorreg as jy deur hom genooi word om saam om so 'n pot te kuier.
Vir Gerrie beteken Mosselbaai 'huis'. "Maak nie saak waar ek optree of waar ek oorsee toer nie, my voete bring my altyd terug Mosselbaai toe" het hy aan die Advertiser gesê. Hy het bygevoeg dat sy hart hier tussen die Outeniqua-berge en die Indiese oseaan lê. Dieter het gesé "ek is altyd baie rustiger as ek eers op Mosselbaai was en dan weer teruggaan Kaap toe" . Sy ouers woon nog op Mosselbaai en Gerrie s'n op Tergniet.
Dieter en sy vrou, Martelize en hul sesmaande oue Mijean het reeds by ouma en oupa Voigt op die dorp gekuier. Benewens sy Pasella werk, is Dieter deesdae ook 'n fiksheidinstrukteur.
Gerrie is onlangs vir 'n SAMA-toekenning vir sy nuwe CD, "Gister en Vandag", wat in November 2011 uitgereik is, benoem. Op dié album is daar 10 nuwe liedjies en ook 10 van sy grootste treffers.
Hy het ook vertel dat benewens sing, is reis sy ander grootste passie. Hy is tans besig met 'n splinternuwe reisprogram vir SABC3. Die eerste episode van die program, wat handel oor 'n paspoort tot 'n oorsese droomvakansie, maar op 'n bekostigbare manier, veral as dit met 'n baie beperkte begroting gedoen word, word op 30 September om 17:30 vertoon.
Hierin vertel hy van die kortpaaie en slim maniere om lekker te eet, te kuier en rond te loop sonder om die duur "toeriste" pryse by die gewildste vakansieplekke te betaal.
Die beplande datum vir die Pasella uitsending oor die twee Mosselbaai manne is 11 September om 19:30 op SABC2.

Die televisiespan van Pasella verfilm Gerrie Pretorius se ‘giftige’ seekospot. Hier gooi hy so ‘n sopie of twee witwyn by die pot om dit net reg te geur terwyl Dieter Voigt (middel), Pasella aanbieder en ook ‘n boorling van Mosselbaai nader staan. Heel links staan die regisseur van die program, Liebe Calitz, wat oorspronklik van George kom en langs haar Cecile Megannon van Kaai4, waar die insetsel verfilm is.

Gerrie se seekospot wat hy spesiaal vir die Pasella kamera op Mosselbaai gemaak het.
FOTO'S: DENISE LLOYD