MOSSELBAAI NUUS - 'n Vragmotor waarvan die remme blykbaar onklaar geraak het, het konsternasie veroorsaak toe dit Woensdagoggend, 17 April omstreeks 10:00 in Eilandstraat deur 'n pallisadeheining teen 'n wal af geploeg het.
Volgens inligting van die Da Gamaskop-polisie het die vragmotorbestuurder bemerk dat daar fout met die voertuig se remme is toe hy in Alhofrylaan was.
Hy het die voertuig gestop en uitgeklim om ondersoek in te stel, waarna die voertuig begin beweeg het in Eilandstraat halfpad oor 'n wal tot stilstand gekom het.
Nooddienste, onder andere voertuie van Mosselbaai brand- en rampsbestuursdienste was op die toneel om hulp te verleen.
Ten tye van die voorval, was die brand- en rampbestuursdienste se vragmotor op die toneel besig om te luier terwyl personeel daar werksaam was, toe 'n lid van die gemeenskap die voertuig ongesiens afgeskakel en die sleutels uit die aanskakelaar verwyder het. Die verdagte het met die sleutels van die toneel ontvlug.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om na vore te kom met inligting. Nie net is dit diefstal nie, maar ook sabotasie wat die nooddienste se werk in die wiele gery het," was kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie se kommentaar.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Enige persoon met inligting, kan kapt Fourie skakel. (082 302 7498).
Blykbaar het die remme onklaar geraak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'