MOSSELBAAI NUUS - Met sleutels van nuwe huise in Mountain View en titelaktes in die hand, wag 'n nuwe lewe op 30 begunstigdes op Mosselbaai.
Dié oorhandiging het op Dinsdag, 25 Maart, plaasgevind toe die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, die dokumente by die D'Almeida-gemeenskapsaal aan hulle oorhandig het.
Van die 30 is baie bejaardes waarvan sommige al dekades wag op 'n huis om hul eie te noem.
Mountain View is 'n woongebied wat uit woonstelle langs Louis Fourieweg en oorkant Heiderand bestaan.
Angelina Elbrugh, een van die titelakte-ontvangers, sê sy het reeds begin om haar huis te versier. "Ek het al die mure begin verf en nuwe teëls gelê. Ek is baie gelukkig."
Die Mountain View-behuisingsprojek is reeds sedert 2019 aan die gang. By hierdie ontwikkeling is meer as 500 titelaktes nou beskikbaar vir invordering.
Afgesien van woonruimtes, sluit die projek ook ander geriewe soos 'n kerk, gemeenskapsentrum en sportveld in.
Onderburgemeester, Cliffie Bayman, en die munisipale raadslid Erica Meyer het ook die geleentheid bygewoon. Saam met Simmers, het hulle titelakte-ontvangers aangemoedig om dié dokumente veilig te hou.
"Onthou dat 'n titelakte ander deure na geleenthede oopmaak. Dit kan as 'n stuk goud beskou word. As jy gevra word 'wat het jy op jou naam', kan jy met selfvertroue sê - dit," het Bayman gesê.
Simmers het Maandag en Dinsdag, 24 en 25 Maart, die Tuinroete besoek om titelaktes ook aan militêre veterane in Pacaltsdorp te oorhandig, 'n sooispit-seremonie by die Gwayang Private Solar Wheeling Plant in George en die bekendstelling van 'n inligtingskantoor vir huurbehuising op Mosselbaai bygewoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’