MOSSELBAAI NUUS - Dolfyne en ander seediere maak gereed vir die jaarlikse sardynloop en Mosselbaaiers was verwonder met die groot getal dolfyne wat onlangs in branders gesien is. Dié verskynsel, wat enig in sy soort in die wêreld is, gebeur wanneer sardyne langs die ooskus op swem na en dan by Mosambiek die kuslyn verlaat en verder ooswaarts beweeg in die Indiese Oseaan na warmer waters.
Die verskynsel veroorsaak een van die grootste migrasies, groter as die enige migrasie van diere op land, waar seediere en diere op land verenig in 'n woeste gejag na hierdie smulhappies.
Vir verskeie voëls, roofvisse, seekatte en soogdiere soos dolfyne en die mens, is hierdie 'n onvergeetlike feesmaal van proteïn wat menige magies vol maak. Die sardynloop kom gewoonlik vanaf Mei tot Julie in ons Suid-Afrikaanse waters voor. Haai spesies soos die groot wit haai (Carcharodon carcharias) en die bronshaai (Carcharhinus brachyurus) neem die voortou as dit by die jag van sardyn kom.
Die Suid-Afrikaanse sardyn (Sardinops sagax) kuit in die koel waters van die Agulhasbank en swem dan teen die kus op. Kuit is wanneer die eiers en sperma in die water vrygelaat word vir voortplanting en uitbroei.
Instinktief groepeer hulle dan in groot skole van biljoene bymekaar wat kilometers groot en breed kan word. Hierdie aasballe, soos dit genoem word, is 'n verdedigingmeganisme aangesien individue makliker gevang en geëet word. Daar was wel jare wat daar geen sardyne migreer het nie, waarvoor daar egter ook nie verklarings voor is nie.
In die Mosselbaai-omgewing is daar die afgelope tyd opgemerk dat dolfyne begin groepeer en verskeie waarnemings is reeds gemaak en op sosiale media gedeel. Huidiglik is die bottelneusdolfyne (Tursiops truncates) in die baai, maar ander spesies soos die boggelrugdolfyn (Sousa plumbea) sal van Kwazulu-Natal en Oos-Kaap af migreer in afwagting van die sardynloop.
Volgens Nico Booyens, mariene bioloog en direkteur van Shark Research Unit, word die sardynloop hoofsaaklik aangewakker deur 'n samevloeiing van oseaniese strome, veral die suidwaarts vloeiende Agulhas-stroom en die noordwaarts vloeiende Benguela-stroom. Hierdie samevloeiing skep 'n voedselryke opwellingstreek langs die Oos-Kaapse kuslyn, wat as 'n katalisator dien vir die voortplanting van planktoniese organismes, 'n noodsaaklike voedselbron vir sardyne. "Die migratoriese gedrag van sardyne word beheer deur 'n komplekse wisselwerking van omgewingsaanwysers, insluitend watertemperatuur, soutinhoud, en oseaniese strome," sê Booyens. Volgens Booyens is skole sardyn reeds in die Kaap opgemerk.
Dis wel egter baie bekend dat die verskynsel ook vir die mens voordeel inhou en sodra die woord uit is dat die sardyne loop, stroom honderde van oral na veral die Kwazulu-Natal se kus om met emmers, nette en sommer so met die hemp, die lekkerny op te raap. Bron: Wikipedia
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’