MOSSELBAAI NUUS - Luitenant-kolonel Maria (Koekie) Gerber se onlangse Worthy Woman-toekenning was nie vir haar nie, maar vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Só sê sy terwyl sy vroegoggend in haar kantoor by die Da Gamaskop Polisiestasie sit - sy is onlangs tot speurhoof van dié stasie bevorder.
"Mense buite moet sien ons gee om; ons probeer terugploeg."
Alma Kapp, die gemeenskapsontwikkeling-koördineerder vir HIV/Vigs, gender, bejaardes en gestremdheid vir die Mosselbaai-munisipaliteit, het Gerber genomineer vir dié toekenning.
Vanuit Kapp se motivering vir die nominasie en bloot 'n paar oomblikke in Gerber se teenwoordigheid, kan jy sien hoekom sy die erkenning ontvang het. Haar meer as 30-jaar lange loopbaan in die polisie is nie vir haar net 'n werk nie, maar 'n roeping.
Hoe dan ook anders as 'n mens reeds op 7- of 8-jarige ouderdom besluit jy wil 'n polisievrou wees?
Gerber se ouer broer was in die polisie, en toe hy een vakansie kom kuier het sy as jong dogtertjie "hierdie groot man wat 'n uniform aan het" gesien en daar en dan besluit sy sal dieselfde pad volg.
Gerber het baie van haar jare as lid van die polisie in die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming- en seksuele misdrywe spandeer. As iemand wat self swaar grootgeword het, het sy uit en uit 'n passie hiérvoor.
"Geslagsgebaseerde en gesinsgeweld is hierso," sê Gerber terwyl sy haar hand oor haar hart lê.
"Dié eenheid pas my soos 'n handskoen."
Hoewel sy nou in haar posisie as speurhoof nie meer so nou by die eenheid betrokke is nie, sal sy steeds met uitreikgeleenthede en toesprake slagoffers van dié geweld aanmoedig op na die polisie uit te reik vir hulp.
Sy sê as almal binne en buite hande vat, kan die siklus van geweld gebreek word. Wanneer sy na gemeenskappe uitreik en sien daar kort hulp of ingryping, veral met kinders, sê sy dit sal in haar gees en vlees pla tot sy iets daaraan gedoen het - hoe klein dit ook al mag wees.
"Wat vir ons niks is nie is vir ander baie."
En sy glo die klein verskil wat jy vandag in 'n kind se lewe maak, bly hulle by. Wanneer sy met hulle praat sal sy dikwels haar uniform baadjie vir hulle aantrek en sê, "Jy kan wees wat ek is."
Sy laat hulle hul handjies uithou en sê vir hulle, hulle hou die hele wêreld daar vas. Gerber het 'n hoop vir Mosselbaai, wat nie anders kan as om mense te inspireer nie. Sy is vas oortuig dat as mense van die dorp saamkom om mekaar te help, kan ons Mosselbaai omkeer.
"Ons is op aarde gesit om goed te doen vir ander mense. Dis flippen lekker om goed te doen!"
En dis wat die blootstelling van die toekenning vir die polisie en vir haar ten doel het: "Dit wat ek bereik het moet ander mense inspireer."
"Ek love my werk. Ek lewe vir die polisie. Ek strewe elke liewe dag om my beste te doen, met nog 'n bietjie by."
Buite die polisie sê sy sy is maar 'n "huistannie".
"Ek het 'n dierbare kindjie wat my hele lewe is. Ek glo as ek die dag nie meer daar is nie, sal hy my skoene kan volstaan."
En lt.kol. Maria (Koekie) Gerber se uiteindelike droom? Om eendag 'n huis van hoop vir kinders te begin. 'n Plek van omgee waar sy 'n ma vir baie kan wees.
"Ek glo en gáán dit regkry. Ek gaan kinders hoop gee wat nie hoop het nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’