HARTENBOS NUUS - ’n Rare swart rooibok is onlangs op ’n wildsplaas in Hartenbos gebore.
Dit is die eerste swart rooibok wat op Outeniquasbosch Wildlife Village gebore is sedert omtrent 1993, toe daar rooibokke op die plaas aangebring was.
Sanellé du Plessis van Outeniquasbosch sê: “Ons het einde Januarie ’n groot verrassing gekry toe ’n swart rooiboklammetjie hier gebore is. Ons het hom Bongi genoem.”
Sy verduidelik hierdie buitengewone verskynsel só: “Die swart kleurgeen is ’n resessiewe geen, wat beteken dat die ‘gewone’ rooi kleur dominant is, en as jy dus ’n swart rooibok met ’n gewone rooibok paar, sal die kleintjie ook rooi wees, tensy die rooi ouer ook die swart geen sou dra.
"Die kans om dus ’n swart rooiboklam uit twee rooi ouers te kry beteken dat beide ouers wel die swart geen moes dra, alhoewel beide rooi van kleur is.”
Du Plessis beskryf hoe die hele situasie met Bongi heel moontlik ontstaan het: “Jare gelede het ’n swart rooibokram vanaf ’n buurplaas oorgespring.
"Die betrokke buurman was ingelig, maar weens die koste verbonde daaraan om die ram terug te skuif, is ooreengekom dat dit maar op Outeniquasbosch kon aanbly.
"Op dié wyse is die swart kleurgeen in die trop hier ingebring.”
Du Plessis sê dit gaan interessant wees om te sien of daar in die toekoms nog swart lammers sou uitdop.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’