MOSSELBAAI NUUS - Die NG Kerk Mosselbaai-Suid se gebou is tans te onveilig om dienste in te hou.
Dít is weens verweer skade, wat aanvanklik net binne die kerktoring sigbaar was, maar wat nou ook buite gesien kan word. Die kerk is in 1958 opgerig.
Die kerk se Eiendomskommissie-voorsitter (ook spottenderwys bekend as die toringredder), André du Toit, vertel hulle het op die binne-skade afgekom toe hulle eintlik na die kerkklok wou kyk omdat dié ook stukkend is.
Dit was sowat 'n jaar gelede.
Nou is dit 'n proses om die gebou te beveilig sodat dienste weer hervat kan word. Dienste word tans in die kerksaal gehou omdat die veiligheidsrisiko in die kerkgebou te groot is.
Ongelukkig is dit nie net 'n geval van herstel nie; die hele toring sal afgebreek en weer herbou moet word. Du Toit sê dit gaan die kerk minstens R800 000 uit sak jaag.
Omdat die skade weens verweer is, word dit ook nie deur die versekering gedek nie.
Só lyk die skade van bo. Foto: Verskaf
Behalwe hiervoor is daar ook 'n erfenisproses wat gevolg moet word deur Erfenis Mosselbaai en Wes-Kaap, omdat die gebou ouer as 60 jaar is.
André du Toit wys die skade binne-in die toring uit.
Die kerk is hard aan die werk om fondse in te samel vir die afbreek en herbou, maar Du Toit sê hulle sal beslis enige hulp waardeer. Enigeen wat die kerk wil ondersteun kan die kantoor kontak (044 690 3552).
Hier is die skade aan die buitekant van die toring ook sigbaar.Fondsinsamelings
Op 4 Mei hou die kerk 'n Dankfees waar al jou standaard en heerlike basaar verwagtinge aan voldoen sal word. Maak gerus daar 'n draai.
Daar word ook volgende week maaltye verkoop, wat kerrie en rys, basaarpoeding, Wimpy-burgers en meer insluit. Jy het tot Maandag, 29 April, kans om te bestel.
WhatsApp Lezelda (083 210 3057) om jou bestelling te plaas.
In Oktober word daar nóg 'n Dankfees gehou wat beloof om 'n lekker paar ekstras by te hê. Dié datum en program moet nog bevestig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’