Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Raadsdame Marie de Klerk, en plaaslike slangkenners, Heinrich Ninaber en Stoney Steenbergen het die afgelope Saterdag die slangkenner Nick Kolberg van George genooi om die inwoners van die Danabaai-bewarea en belangstellendes toe te spreek.
Kolberg het 'n slangbewusmakings- en inligtingspraatjie asook 'n demonstrasie by die Danabaai-gemeenskapsaal gehou.
Nick het tydens die geleentheid belangstellendes geleer om te onderskei tussen die verskillende plaaslike slangspesies en het gesels oor wat inwoners te doen staan as hulle op 'n slang afkom. Hy het ook wenke gegee oor hoe om 'n slangbyt te voorkom.
Nick het sy praatjie begin met die onskadelike bruin huisslang, asook die groen huisslang wat plaaslik voorkom, maar het beklemtoon dat enige slang kan pik, giftig of nie.
Kyk 'n video hieronder:
Identifikasie van 'n slang kan egter nie deur kleur alleen bepaal word nie. Van die belangrikste kenmerke is egter merke en die postuur van 'n slang.
Die belangrikste wenk indien jy enige slang teëkom is om doodstil te staan en kalm te bly. Observeer en kyk na kenmerke waardeur die slang later geïdentifiseer kan word.
Bruin huisslang
Die bruin huisslang is slank, gespierd en bruin van kleur, wat kan wissel tussen roesrooi tot lig- en donkerbruin, afhangende van die gebied waarin dit voorkom.
Ouer slange is by meestal donkerbruin. Die skubbe is glad en blink en die slang se onderkant is 'n vuilwit. 'n Verdere kenmerk is twee bleek, geel of roomkleurige strepe langs die kante van die kop. Volwasse slange het 'n gemiddelde lengte van ongeveer 60cm, hoewel slange van 90cm en ook 1,2m al waargeneem is.
Groen huisslang
Die groen huisslang ook genoem die olyfslang is 'n stadige slang wat hoofsaaklik in die nag voorkom en baie ooreenstem met die bruin huisslang is. Hul kleur wissel van olyfgroen tot ligbruin en selfs swart en kan 45cm tot 75cm lank word. Die slang is egter glad nie giftig nie.
Nagadder
Die nagadder se gif veroorsaak aansienlike pyn, maar is nie dodelik vir die mens nie. Hulle het 'n gemiddelde lengte van 60cm. Hulle is maklik uitkenbaar aan die prominente V-vorm op die nek en kop.
Eiervreter
Die eiervreter is 'n slang wat regoor Suid-Afrika voorkom. Die slang word tussen 45cm tot 75cm lank. Die gewone eiervreter word dikwels met die nagadder verwar aangesien die kleure baie dieselfde is, maar is inteendeel heel onskadelik.
Pofadder
Die pofadder is 'n relatief kort en dik slang van ongeveer 90cm. 'n Pofadder se toksiese gif is weefselvernietigend. Dit is 'n stadige slang en lê gewoonlik vir sy prooi en wag.
Pofadders is ook verantwoordelik vir die meeste slangbytsterftes in Suid-Afrika. 'n Duidelike V-merk op 'n pofadder se kop sigbaar. Pofadders pik teen 27m/s. Hulle het chevron-patrone op hul rûe waarvan 'n derde van die kop af se punte na die stert wys.
Kaapse kobra
Die Kaapse kobra kan tot 2m lank word en sy toksiese gif is weefselvernietigend. Mediese hulp is dadelik nodig na 'n kobra se byt. Kenmerkend aan die kobra is sy geel kleur. Kleur kan verskil afhangende van die omgewing waar dit voorkom van 'n koperkleur tot meer bruin. Hulle pof hul nek op indien hul bedreig word.
Boomslang
'n Boomslang volgens Nick is die een slang wat alles in sy vermoë sal probeer doen om nie te pik nie. Indien 'n boomslang vasgekeer word en hy pik, laat dit die bloed stol en word inwendige bloeding veroorsaak. Kenmerke van boomslange is dat dit 'n lang, dun slang is en hulle word tussen 1m en 1.6m lank. Mannetjies is groen en wyfies, effens bruin.
Kleurvariasies kom wel voor. Iemand wat deur 'n boomslang gepik word, kan slegs met boomslangteengif behandel word.
Indien jy plaaslik 'n slangprobleem het skakel gerus een van die volgende nommers vir hulp. Stoney Steenbergen (083 609 9683), Heinrich Ninaber (082 453 1787) of Nick Kolberg (083 262 5934).
Stefan Viljoen kyk hier met groot oë na die Kaapse kobra. Foto: Jannie du Plessis
Volgens Nick Kolberg is die boomslang baie lief vir kameras en daarom het die toehoorders mooi foto's geneem kry tydens die demonstrasie. Foto: Jannie du Plessis
Lees 'n vorige artikel: Slangkenner praat oor plaaslike slange
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'