MOSSELBAAI NUUS - Drie vroue neem in November aan Mosselbaai se Ironman deel - nie vir die medaljes nie, maar vir ’n man met sistiese fibrose (SF).
Wat dit selfs meer merkwaardig maak is dat dié Stellenbosch-vroue en JC Vorster mekaar nog nooit ontmoet het nie.
Renette van der Walt, ’n ontwerper, pak die swem aan, Albie Olivier, ’n finansiële assistent, ry fiets en Bettina Meyer, ’n bedryfsingenieur, sal die drafwerk doen.
Volgens die Vereniging vir Sistiese Fibrose is SF ’n oorerflike siekte wat verskeie organe affekteer, veral die longe en pankreas, wat weens die siekte deur ’n dik, taai slym bedek kan word.
JC Vorster in die hospitaal in Januarie. Sy suurstofvlakke is tussen 10% en 15% geskat - hy was te swak om getoets te word.Hoekom die Ironman?
Olivier verduidelik hoe hulle tot op dié punt gekom het. Sy het deur ’n vriendin vir Maré Smit, die stigter van die Breathtaking Fundraising NPC en ook ’n SF-leier, ontmoet.
Dié organisasie sonder winsoogmerk (OSW) ondersteun persone met SF en probeer om hul lewens deur fondsinsameling en ander inisiatiewe beter te maak.
Olivier vertel dat Smit in 2022 die voorreg gehad het dat haar pa vir haar lewensveranderende Trixacar-medikasie (’n generiese weergawe van Trikafta) in Argentinië kon gaan haal het.
“Daardie tyd was dit nog nie in SA beskikbaar nie. Ek het eerstehands die verkil in haar lewe gesien. Sy kon vir die eerste keer plat slaap, saam met haar kinders speel en ’n gesprek voer sonder om te hoes.
Met die groot verskil wat sy gesien het, het sy besluit om ’n OSW te stig om ander pasiënte in SA ook te help. Die OSW het vlugte Argentinië toe gekoördineer en vrywilligers opgelei om te gaan omdat pasiënte dikwels te siek was om dit self te doen.”
Raak betrokke
Olivier het een van hierdie vlugte behartig en daarmee ’n SF-leier se lewe en ook haar eie verander.
“Dit is letterlik die verskil tussen lewe en dood vir hulle. Na my terugkeer het ek aktief by die OSW begin betrokke raak.”
Die Ironman was nog altyd vir haar ’n droom, maar sy het vroeg kinders gekry en aanvanklik eers dié droom uitgestel tot na hulle uit die huis uit sou wees.
“Maar toe lees ek JC se storie en besef geen verskoning is groot genoeg nie. So kom ons doen dit as ’n span, want dan kan ons hom help om weer asem te haal."
Help JC Breathe is ’n fondsinsameling wat onder die OSW val.
“Vir groter blootstelling aan SF-pasiënte is ons mikpunt om die podium in ons katogorie te haal. Ons oefen hard om dit te haal om die gelde wat ons vir JC insamel te verdubbel sodat die Breathtaking NPC ook kan baat.”
Die span
Meyer (die span se drawwer) het nege jaar laas ’n halfmarathon gedoen, en toe Olivier met haar die missie deel het sy gesê: “Hmm, wat ’n great cause om my na twee babas weer aan die oefen te kry!”
Swemmer Renette is die span se staatmaker, sê Olivier. Sy is nie nuut tot kompetisies nie en het al voorheen vir liefdadigheid geswem, én daarmee ’n ordentlike hoeveelheid geld ingesamel.
Olivier hou van fietsry, maar voor sy hiervoor begin oefen het was 25 km ver genoeg.
“JC was my motivering om weer aan die gang te kom en myself tot die uiterste te druk. Beide ek en Bettina het weer begin oefen vir die Ironman met JC en alle SF-pasiënte in SA as die enigste motivering.”
Onbeskryflik
Vorster sê hy is totaal oorweldig deur hierdie vroue se toewyding. “Dit is moeilik om vir iemand te beskryf hoe dit voel om te weet drie vreemdelinge, wat jou van absoluut geen kant af ken nie, sit hulle eie lywe elke dag vrywillig deur ure se oefen, nie vir ’n medalje by die wenstreep nie, maar sodat jy ’n regverdige kans op die lewe het.
JC Vorster by vriende se troue op ’n aand wat hy goed genoeg gevoel het om tot na 21:00 wakker te bly.
“Min mense weet wat SF is; nóg minder weet watter impak dit werklik op ’n persoon se lewe het. Maar daar is altyd engele op aarde, en vir my is daardie engele Maré, Albie, Bettina en Renette.”
Hy sê daar is geen kuur vir sy siekte nie, maar Trikafta is so naby aan een soos wat enige persoon met SF voor kan hoop.
“Die probleem is dat dit onbekostigbaar duur is, en selfs met ’n subsidie is dit om en by R33 300 per maand. My medies sal dit eers vanaf Maart 2027 dek, en die realiteit is dat ek net nie so lank kan wag nie...”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’