Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyftigjarige man wat glo 'n sewejarige meisie van Mosselbaai R41,60 gegee het sodat hy haar kon betas, se verhoor begin op 12 Desember in die Mosselbaai-streekhof.
Die voorval het op 13 April vanjaar by die parkeerterrein op Diasstrand, oorkant die Diaz Waterpark plaasgevind.
'n Op en wakker pa wat sy seun dié betrokke dag na die strand geneem het om branderplank te ry, het die voorval gesien gebeur nadat hy en sy seun van die strand af gekom het. Die seun het by 'n stort naby die parkeerterrein die seewater afgespoel toe die ooggetuie sien hoe die verdagte in sy Uno by die parkeerterrein sit en die sewejarige meisie, wat buite die voertuig gestaan het, nader trek.
Volgens die polisie het die man gesien toe die verdagte sy hand by die slagoffer se privaatdeel sit. 'n Polisiewoordvoerder sê die ooggetuie het vir die man geskree en nader gehardloop waarna hy die verdagte se motorsleutels uit die aansluiter geruk het.
Die ooggetuie het die polisie gebel en die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem op 'n aanklag van seksuele aanranding. Die omkoopgeld is in die slagoffer, wat in Uitbreiding 8 woon, se besit gevind.
Lees 'n vorige artikel: Man betaal om 7-jarige te betas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'