Update
MOSSELBAAI NUUS - Sewe vriende het gisteraand, 2 Maart rustig gesit en kuier in die Dakota Spur by die Hartenbos Waterfront toe gewapende rowers net voor toemaaktyd om 22:00, die restaurant binne gestorm het. Almal in die restaurant is beveel om op die grond te gaan lê.
Gerlinda Niehaus, wat saam met ses van haar vriende daar was, het aan Mossel Bay Advertiser gesê die rowers het geskreeu; "Werk saam of julle is almal vrek." Almal was geskok gewees, maar het gemaak soos hulle gesê het.
"Hulle het op my vriendin se been getrap om by die bestuurder of die eienaar, ek is nie seker nie, uit te kom. Hulle trap toe sy neus stukkend en skop hom en dreig om hom te skiet as hy nie die kasregister en kluis oopmaak nie," vertel Niehaus.
Niehaus was saam met Angelique Harmse, Kimberley Blignaut, Wayne Harper, Daniel Mostert, Carla Mostert, Gerlinda Niehaus en haar vriend van Rotterdam, Yslain Verwaal.
Niehaus se dokumente behalwe haar paspoort is geroof en sy vertrek oor 'n week Vrydag, 10 Maart na Rotterdam saam met Verwaal.
Haar vriend, Yslain Verwaal, was volgens haar baie kalm en hy het sy sakkie met beursie en dokumente dadelik weggesteek. Die ander se beursies en besittings is deur die rowers afgeneem.
Volgens die eienaar van die Spur, Marius Schoeman was sy bestuurder, Tiaan van Eeden aan diens saam met meer as 10 personeel.
"Ons is net dankbaar dat niemand ernstig beseer is nie en Tiaan se neus is darem nie gebreek nie, het Schoeman aan die Advertiser gesê.
"Twee van die rowers was reeds sittend binne in die restaurant as klante toe vier ander die restaurant binnestorm. Daar was onveer nog seker so 12 klante en personeel in die restaurant," sê Schoeman.
Schoeman sê ook dat van die klante was net betyds uit voor die rowers toegeslaan het.
Volgens Schoeman het hulle die kasregister leeggemaak en kon nie veel by die kluis kry nie nadat hulle Van Eeden gedwing het om die kluis oop te maak. "Persoonlike besittings van die klante is egter gevat," sê hy.
Op sosiale media het verskeie klagtes gekom dat daar geen noodligte tydens beurtkrag op die Waterfront perseel en parkeer-area is nie, en selfs by die toiletgeriewe is daar nie lig of die gloeilampe is stukkend. Besoekers aan die Waterfront moet in die stikdonker die restaurante verlaat tydens beurtkrag. Voorvalle tydens beurtkrag kom al hoe meer voor en rowers maak gebruik van die donker om weg te kom.
Die sewe vriende in 'n opgewonde luim in die Spur voor die gewapende rowers toegeslaan het. Van links: Angelique Harmse, Kimberley Blignaut, Wayne Harper, Daniel Mostert, Yslain Verwaal, Gerlinda Niehaus en Carla Mostert.
Vorige artikel: Gewapende roof by Spur Hartenbos
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'