MOSSELBAAI NUUS - Daar is sedert Augustus vanjaar 57 spazawinkels besoek as deel van klopjagte wat uitgevoer word.
Die Mosselbaai-munisipaliteit, een van die rolspelers in dié klopjagte, sê daar is sover 40 boetes uitgereik vir nie-nakoming van relevante verordeninge, 10 arrestasies is uitgevoer, 11 winkels se goedere is op beslag gelê en ses winkels gesluit.
Dié winkels is in verskeie gebiede binne die groter Mosselbaai.
Ná voorvalle van pille in pakkies skyfies op Groot Brak verlede week, is dáár ook 'n klopjag uitgevoer.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM), ook 'n rolspeler in dié klopjagte, staan aan die hoof van munisipale gesondheidsdienste. Sy rol sluit in die sluiting van onwettige of nie-nakomende winkels, asook die aanhouding en beslaglegging van voedsel in geval van nie-nakoming.
Ná die voorvalle op Groot Brak is daar op 6 November twee winkels op Freimersheim en een winkel op Groot-Brakrivier ondersoek.
"Altesaam 172 pakkies skyfies is deur die gesondheidsinspekteur gekies en oopgemaak, maar geen vreemde voorwerpe is met die ondersoek gevind nie. Fakture het aangedui die produkte is van betroubare groothandelaars op Mosselbaai verkry," sê die TDM.
Die laboratorium resultate van die pille wat aanvanklik gekry is, is volgens Groot Brak Polisie se woordvoerder, sers Lauriane Botha, nog nie bekend nie.
TDM sê klopjagte daarna uitgevoer sluit in sewe winkels in D'Almeida, drie in Asla Park, vier in Uitbreiding 13 en vyf op Herbertsdale.
Mosselbaai-munisipaliteit sê aangesien dié klopjagte in samewerking met die polisie gedoen word, word daar ook gefokus op die jurisdiksie van 'n bepaalde polisiestasie.
"Beslagleggings asook die uitreik van kennisgewings tydens hierdie klopjagte is nie ongewoon nie en gebeur op 'n gereelde basis. Die mees onlangse suksesse is noemenswaardig en in die lig van ander nuusgebeure elders in die land, is dit relevant om die pogings rakende gemeenskapsveiligheid en -gesondheid waarby die Mosselbaai-munisipaliteit en sy medewerkers betrokke is, met trots bekend te maak."
In September is 'n ooreenkoms onderteken tussen die Wes-Kaapse provinsiale bevel van die polisie en die Mosselbaai-munisipaliteit, wat samewerkende pogings om kriminele aktiwiteite te bekamp spesifiek met betrekking tot die gebruik van die K9-eenheid goedkeur.
Rolspelers in die bogenoemde klopjagte sluit in die gesondheidsdepartemente van die TDM en die Mosselbaai-munisipaliteit, lede van die Mosselbaai-munisipaliteit se vullisbestuursafdeling, die munisipale K9 en reaksie-eenhede, asook lede van die polisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’