MOSSELBAAI NUUS - Die mede-eienaar van die St Blaize Restaurant by die ligtoring op Mosselbaai, Marius Kearney, sê geen advertensiebord is teen die lighuis se muur vasgemaak nie.
Dit volg op 'n beeldmateriaal wat 'n inwoner van Mosselbaai Dinsdag met 'n hommeltuig gemaak het. Dit dui 'n advertensie wat oor die muur van die lighuis hang aan.
Kearney sê daar was wel 'n seil banier wat los gehang het van die bokant van die toring vir 'n oomblik, en sonder sy toestemming.
"Geen advertensiebord was al ooit teen die lighuis se muur vas nie. Die lighuis is onder privaat bestuur en ons aanbiedinge is duidelik op ons webwerf beskikbaar."
Kearney sê "honderde" het al verloof geraak bo by die lig van die toring en dikwels word daar dan baniere gebruik waarop staan: sal jy met my trou.
Oor Dinsdag se beeldmateriaal sê Kearney 'n maatskappy het 'n funksie by die lighuis gehou en ook 'n toer van die toring gehad.
"Fotosessies word bo by die lig gehou asook onder by die dek van die restaurant. Die groep het vir hulle fotosessie bo 'n seil banier laat sak. In daardie stadium het 'n inwoner sonder ons toestemming bo die radar verby gevlieg en beeldmateriaal met sy hommeltuig geneem."
Kearney sê hy was onbewus van die voorval en het die oomblik toe hy daarvan ingelig is onmiddelik die gaste versoek om die banier te verwyder.
"Die groep het my versoek gerespekteer en dadelik die banier verwyder."
Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) se uitvoerende bestuurder: vuurtoring en navigasiestelsels, Kaptein Sabelo Mdlalose, het aan die Advertiser gesê advertensies op Suid-Afrika se ligtorings word nie toegelaat nie.
"Baie van Suid-Afrika se ligtorings word beskerm onder die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, wat streng reëls het vir hoe die geboue in stand gehou moet word. Advertensies word nie toegelaat nie. Dit is moontlik om Suid-Afrika se vuurtorings vir film- en fotosessies te bespreek, maar daar is 'n besprekingsproses wat gevolg moet word."
Mdlalose het gesê TNPA is besig met verdere ondersoek oor die saak.
Kearney sê Mosselbaai se ligtoring is van strategiese belang en "waarskynlik die mees belangrikste ligtoring."
"Die ligtoring se radarstasie is van meer belang as net van die oog af. Met ons ligtoring toer word die belangrikheid beklemtoon en word die ligoring in 'n ander lig aanskou. Hommeltuig eienaars moet dus die ligtoring-area vermy om moontlike vervolging te verhoed."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’