TUINROETE NUUS - Die 44ste Grosvenor-oorlewingstaptog begin môre, 11 Desember vanaf Wildernis.
Tydens dié besonderse, dog uitmergelende tog, geskoei op die staptog van skipbreukelinge vanaf die Oos-Kaapse kus na Kaapstad, word 'n groep seuns van oraloor Suid-Afrika tot die uiterste toe getoets.
Kosie Gericke, 'n plaaslike bou- en verfkontrakteur is al 20 jaar by die Grosvenor as instrukteur betrokke en het dit vier jaar gelede amptelik oorgeneem.
Die staptog is deur Ewald Crause, ook bekend as Seevader, in 1976 begin. Hy is op 23 Mei 2020 oorlede.
Verlede jaar, vanweë die Covid-19-pandemie, kon dit nie plaasvind nie, maar vanjaar is jong manne van Malmesbury, Uitenhage, Despatch, Rustenburg en sommer 'n paar van Hoërskool Punt gereed om hulle oorlewingsvaardighede op die proef te stel.
Wat die Grosvenor besonders maak, is dat aangesien die staptog na bykans 50 jaar so te sê die toets van tyd deurstaan het, pa's wat dit in hulle jeug afgelê het, hulle seuns aanmoedig om dit ook aan te pak.
Vir die afgelope 44 jaar, ondervind jong seuns 'n lewensveranderende ervaring tydens die Grosvenor-staptog.
Volgens Gericke was dit in 2019 die eerste keer dat Crause nie by die begin- of die eindpunt van die staptog kon wees nie. Crause sou gebruiklik, nadat hy nie self meer die staptog gelei het nie, die seuns by die eindpunt ontmoet, hulle Grosvenor-hemde aan hulle oorhandig en saam met hulle vir 'n groepfoto poseer.
"Tóé al het Grosvenor 'n stukkie van sy uniekheid verloor. Vanjaar is dit die eerste keer dat oom Ewald nie in vlees by ons is nie," berig Gericke. Hy is vasberade dat die Grosvenor moet voortleef.
"Ek weet wat die kamp vir my beteken en ek voel dat dit moet oorgedra word aan die seuns van vandag, juis vanweë die uitdagings wat hulle in die gesig staar. As oom Ewald kon, sou hy dit beslis nog 50 jaar wou doen. Daar wil ek die Grosvenor-legende laat voortleef, ter wille van oom Ewald."
Gericke bedank die Mosselbaaise sakeondernemings wat as borge vir die staptog na vore getree het.
Van die besonderse oomblike tydens die staptog, is die stories wat vertel word en saamsing van liedjies. Hier staan wyl Ewalk Crause tussen die stappers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'