MOSSELBAAI NUUS - 'n Groen seeskilpad het die afgelope Sondag, 17 November, in 'n uiters swak en onbeweeglike toestand op die strand by Boggomsbaai uitgespoel.
Lede van die publiek het die Turtle Rescue Network (TRN) gekontak en die dier is veilig van die strand verwyder.
Volgens Tracy Whitehead, die reddingskoördineerder van die Twee Oseane Akwarium se Skilpadstigting in die Wes-Kaap, was die dier bedek met algegroei.
'n Duidelike teken dat die skilpad oor 'n geruime tyd verswak het.
Weens die dier se swak toestand kon geen groot toetse uitgevoer word om te bepaal wat die dier se siekte- en/of beseringstoestand is nie en rus met die oog op herstel is nou nodig voor enige verdere optrede.
Opgeleide personeel in skilpadredding van die Fransmanshoek Rangers op Vleesbaai, was ook betrokke met die redding.
In 'n boodskap op Facebook het Whitehead ook uitgereik na mense om die dier na Kaapstad te vervoer waar daar by die Twee Oseane se Konserwatorium vir Skilpadredding aandag gegee kon word met die versorging en rehabilitasie van dié seeskilpad.
Huidiglik is die dier steeds in 'n kritieke toestand waar sy sorg deur 'n veearts oorgeneem is. Indien die dier genoegsaam kan herstel, sal hy na die Twee Oseane se uitstal-akwarium oorgeplaas word vir sy finale fase van rehabilitasie.
Daar sal dan ook verrykingsbehandeling toegepas word voor vrylating.
"Afhangende van die oorsaak van swakheid, kan seeskilpaaie maande, of soms jare, by ons bly totdat hulle 100% geskik is vir vrylating," het Whitehead aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik.
"Die hoofdoel van die konserwatorium is om die seeskilpaaie weer in die natuur vry te laat," sê sy.
Die jongste redding volg kort ná nóg 'n geval waaroor die Advertiser verlede week berig het toe 'n Hawksbill seeskilpad by die Hartenbos riviermond te hulp gesnel is. Dit was egter tevergeefs omdat die dier intussen gevrek het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’