MOSSELBAAI NUUS - Die Engelse gesegde lui: If you can dream it, fight for it!
Dit is presies wat vyf leerders van Mosselbaai dorp gedoen het en op Woensdag, 12 Desember, het hulle sodoende 'n droom bewaarheid.
Dinsdagaand is daar maar min geslaap, want die opgewondenheid het Klaasvakie weggehou. Die son het skaars oor die see geloer, toe is hierdie spannetjie al uit die vere - 'n buitengewone verskynsel in ag genome dat tieners graag laat slaap. Die laaste goedjies is haastig gepak en toe moes hulle hul rapporte by die skool gaan afhaal, voordat hulle pad gevat het George toe. Watter vrolikheid was dit nie, want hulle almal het met vlieënde vaandels geslaag en is volgende jaar in graad 12.
By die lughawe was daar 'n gewoel van 'n ander aard toe ouers, grootouers, vriende en familie dié groepie FSA-uitruilstudente van Mosselbaai kom groet het. Onder die opgewondenheid en bravade het hulle stilletjies 'n traan of twee weggevee, want hulle bloedjies gaan 'n maand lank in die vreemde deurbring. Die Friends of South Africa (Freundeskreis für Südafrika - FSA) wat in 1996 gestig is, is 'n uitruilprogram vir hoërskoolleerders. Leerders van Duitsland en Suid-Afrika kry hierdeur die geleentheid om by families in Duitsland en in Suid-Afrika tuis te gaan.
Hierdie groep wat bestaan uit 64 leerders van regoor die land, is deur FSA gekeur nadat hulle meer as 200 aansoeke ontvang het. Die groep sal 'n maand in Duitsland deurbring om die kultuur en leefwyse van die Europeërs te ervaar. Die meeste lede van die groep is geplaas in stede regoor Duitsland en van hulle is in landelike gebiede geplaas. Die lede van die groep kan nie uitgepraat raak, omdat hulle dalk 'n wit Kersfees gaan ervaar nie.
Drie van die leerders, Anniël Groenewald, Rufieka Heunis en Davene Anderson, het verlede jaar ook hulle skool, Hoërskool Sao Bras, by die eerste reeks van die televisieprogram, Die Superskool, verteenwoordig.
In 2019 gaan die Duitsers weer vir hulle kom kuier om egte Suid-Afrikaanse gasvryheid te ervaar.
Die ouers wil graag die organiseerder, Debbie Jeffrey en elke donateur en ondersteuner hartlik bedank vir hulle bydraes. Daarsonder sou hierdie geleentheid net 'n droom vir die leerders gebly het.
Saam met onderwyseres Debbie Jeffrey (middel) is Rhufieka Heunis, Erin Jeffrey (Hoërskool Punt), Davene Anderson en Courtney Tarentaal. Agter: Anniël Groenewald.
Rhufieka Heunis, Davene Anderson, onderwyseres Debra Jeffrey en Anniël Groenewald
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'