GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Haar benadering is dat vroue altyd, elke dag braaf moet wees.
Vroue glip te maklik in ’n passiewe rol. Hulle moet weet wat die waarheid is en noem wat dit is. Te veel vroue wat verneder word, neig tot minderwaardigheid. Vroue moet nie skree nie, maar net hul stem dik maak.
Dit was onder meer die boodskap van die bekende Suid-Afrikaanse aktrise, Sandra Prinsloo, tydens haar besoek as eregas by die onlangse byeenkoms van die Grootbrak Leeskring.
Die bekende skrywer, ’n inwoner van Groot-Brak, Sidney Gilroy, het die gesprek met Prinsloo gelei.
As skoolkind, het Prinsloo vertel, het sy tot in haar matriekjaar ballet geneem. Daarna, met geen agtergrond in toneelspel nie, het sy by die Universiteit van Pretoria drama studeer.
Sy het ook oudisies by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (algemeen as Truk bekend) gedoen en by toneelopvoerings betrokke geraak. Een rol was Tiemie in Siener in die suburbs, eers op die verhoog in 1971 en daarna ook in die filmweergawe in 1973. Haar deurbraak op die silwerdoek was egter in 1980 met The Gods Must Be Grazy.
Oor haar verhoogrol in Miss Julie kort daarna sê Prinsloo was sy verstom oor die “volume van haat” wat haar oor die soen tussen haar en John Kani getref het.
Verder het sy ook al ’n reeks eenvrouvertonings gedoen.
Tydens Die naaimasjien het sy tot die besef gekom watter eensaamheid veral vrouens ervaar wanneer daar van besittings ontslae geraak moet word. Hul naaimasjiene is die laaste besitting waarvan afstand gedoen word, sê sy.
Kamphoer was gedurende 2019 ook ’n eenvrouvertoning wat Prinsloo besonder opgewonde gehad het. Hoewel die verhaal van Susanna Nel gedurende die Anglo-Boereoorlog en enkele jare daarna afspeel, kan dit verband hou met hedendaagse gebeure.
“Dit is onnodig dat vroue lewenslank emosionele letsels moet dra,” het Prinsloo gesê.
Volgens haar eis dié eenvrouvertonings ’n emosionele tol. “Navorsing moet gedoen word oor die emosionele belewenisse van die karakter wat uitgebeeld word, asook die binnewerke van die persoon aan wie gestalte gegee word.”
Oor die hantering van kritiek het Prinsloo gesê sy lees nie resensies oor haar opvoerings nie. Sy vertrou die regisseur en die enkele persone wat saam met haar aan die produksie werk. “Sukses word gemeet aan die reaksie van die gehoor om te bepaal of die boodskap intellektueel en emosioneel getref het.”
Op Gilroy se vraag oor waarvoor sy onthou wil word, het Prinsloo eerlik en beskeie geantwoord dat sy aan niks besonders kan dink nie. “Dertig jaar na die afsterwe van ’n persoon is hy of sy gewoonlik vergete.”
Na afloop van haar en Gilroy se gesprek het Prinsloo teenoor ’n bestuurslid van die leeskring genoem dat die onderhoud wat Gilroy met haar gevoer het van die beste is wat sy al ervaar het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’