Video
MOSSELBAAI NUUS - Curro Mosselbaai se matrieks van 2025 het gistermiddag, 12 Januarie, hulle uitslae ontvang en Mossel Bay Advertiser het met so ‘n paar van hulle gaan gesels oor toekomsplanne en meer.
Lamé Roux het derde in haar jaargroep geëindig en reken dis positiwiteit wat jou deur die jaar help.
Curro het vir die 11de jaar in ’n ry ’n 100%-slaagsyfer behaal. Die wag vir haar resultate het haar senuwees op gehad, sê Lamé, “maar ek is baie bly dit is verby en ek kan nie wag om van die universiteit af te hoor en alles te begin nie”.
“Ek gaan Stellenbosch toe om eers ’n gewone BSc te swot, maar ek wil baie baie graag ’n paramedic wees. Ek is van kleins af baie lief daarvoor om mense te help. As iemand seerkry is ek daar, ek is baie geïnteresseerd in die menslike liggaam, so ek dink dit is definitief die rigting vir my.”
Sy het darem nie nét skoolwerk gedoen gedurende 2025 nie en sal beslis ’n paramedikus met ’n kunssinnige aard wees. “Ek is verskriklik lief vir musiek, so ek speel kitaar en ek sing. Ek was ook in meeste van ons produksies gewees, so as ek enigiets anders met my lewe sal doen, sal dit dit wees.”
Video: Lamé Roux (middel) saam met twee van haar klasmaats, Rowan Truckenbrodt en Waldo Smit.
En wat is die moets en moenies vir ’n mens se matriekjaar?
“Wel, een ding wat jy nie moet doen nie, is negatief wees. Ek kan jou waarborg as jy ’n positiewe attitude het en jy net jou tyd goed bestuur en jou tyd geniet, is gr. 12 die beste jaar ooit. As mens negatief is sukkel mens nogal deur die jaar, ek moet sê. Bly net positief en leer hard en doen net jou deel, dan gaan alles fine wees.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’