MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se sakelui het verlede week weer eens nie gehuiwer om te help toe daar op hul knoppie gedruk is nie.
Mosselbaai-munisipaliteit het Sondagoggend, 24 November omstreeks 10:00 'n boodskap ontvang dat een van die reservoirs wat drinkwater aan Herbertsdale verskaf, geheel leeg is.
Met die munisipale watertrok wat op daardie stadium vir 'n diens was en die kontrakteur se watertrok wat ook onklaar is, het die munisipaliteit voor 'n dilemma gestaan want ook die brandweerwa wat juis die vorige dag water vir Herbertsdale aangery het, was met sy terugkeer in 'n ongeluk betrokke en is beskadig.
Hoewel die onmiddellike nood vir sowat 10 000 liter water was, het Cobra Transport en Allies Transport aangebied om meer as 55 000 liter af te lewer. Boonop is die aflewerings gratis gedoen om die gemeenskap van Herbertsdale se nood te verlig.
Mosselbaai-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die betrokke besighede van harte vir hul onbaatsugtige hulp bedank.
Cobra Transport en Allies Transport het gehelp om meer as 55 000 liter water in Herbertsdale af te lewer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'