RUBRIEK - Wanneer die lang wyser van die horlosie vanmiddag oor die vier in die rigting van halfvyf beweeg, sal my gedagtes soos gewoonlik die afgelope 37 jaar op 20 Mei, teruggaan na 'n belewenis wat diep in my gemoed geklim het.
Dit sal my ook herinner aan 'n algemene lewensvertrekpunt waarvan ek eindelik eers later die ware belang besef het.
Dit is dat mense met mekaar moet praat en regtig na mekaar moet luister.
Terwyl ek hier teruggedink, weet ek dit was al destyds in 1983 relevant. Nou, 38 jaar later is dit meer relevant as ooit tevore in ons mooi land Suid-Afrika.
Kom ek gaan haal dit daar ver in Pretoria.
Vir my was Vrydag 20 Mei 1983 'n gewone dag. Dit was die vorige politieke bedeling en net soos duisende ander wit jong mans was ek besig met verpligte militêre diensplig. Vir my kon halfvyf nie gou genoeg kom nie, want dan sou ek Johannesburg toe gaan vir 'n heerlike afnaweek.
Ek was in die Poynton-gebou in Kerkstraat en soos baie ander op 'n Vrydagmiddag, het ek hier teen 20 minute oor vier (16:20) in 'n gang op die 17de verdieping na 'n hysbak aan die oostelike kant van die gebou beweeg. Anders as baie van my mede-dienspligtiges wat in die destydse Suidwes-Afrika ontplooi was, het ek eindelik 'n "veilige" soort diensplig gehad.
Maar binne minute sou alles verander.
Die skielike oorverdowende slag en direk daarna 'n vreemde, onheilspellende stilte wat soos 'n ewigheid gevoel het, is vir altyd in my brein geëts.
Ons groep in die gang het die kantoordeure oopgeruk en na die vensters gehardloop. Hulle was stukkend - selfs op die 17de verdieping. Een van die eerste dinge wat ek na die slag gehoor het was 'n staandemaglid wat geskreeu het: "Lugmag HK is getref."
Die gordyne het liggies beweeg in die laatmiddag herfswind van Pretoria. Ver onder in Kerkstraat was daar 'n groot rookwolk. Eers later sou die tonele daar onder, woorde en foto's in koerantberigte word.
Dit was die Kerkstraatbom wat deur die ANC se militêre vleuel, uMkhonto we Sizwe geplant is.
Die ANC was in daardie stadium in 'n gewelddadige stryd met die apartheidsregering van PW Botha en die Nasionale Party gewikkel.
My eerste gedagte was dat ek daar moes uit en vinnig ook, want ek kon dalk sterf.
As 'n mens kort voor halfvyf op 'n Vrydagmiddag in een van Pretoria se hoogste geboue staan en jy sien so 'n rookwolk, dink jy nie aan politiek nie.
Die uitgang op die 17de verdieping was gesluit en ons is na die 18de verdieping. Daar is ons in 'n hysbak af na die hoofingang van die gebou.
Nie een van ons was voorbereid op dít wat op grondvlak gewag het nie: 'n glastapyt van gebreekte vensters; chaos; mense wat skreeu; loeiende sirenes; beseerde mense.
Dooie mense.
Ek het so vinnig as moontlik beweeg en op die westelike hoek van Kerkstraat 'n vrou sien lê. Sy was vol bloed en haar liggaam het geruk.
Ek sal dit nooit vergeet nie. Vir jare daarna en selfs vandag nog, pla dit my dat ek nie gestop het om haar te probeer help nie.
Maar ek sou ook nie kon nie, want noodwerkers het almal beveel om so vinnig moontlik van die toneel te kom. Daar kon nog 'n bom wees.
In die ure en dae daarna het meer inligting bekend geword. Negentien mense is dood - ook die twee bomplanters - en 217 is beseer.
Baie water het daarna in die see geloop. Byna 11 jaar later, op 10 Mei 1994, het die ANC en die NP amptelik 'n nuwe regering gevorm toe Nelson Mandela by die Uniegebou op Meintjieskop, nie ver van Kerkstraat nie, as die eerste demokratiese verkose president ingehuldig is.
Interessant genoeg het die einste lugmag wat destyds in die visier was, 'n skouspelagtige vertoning gelewer.
Dit was alles moontlik omdat aartsvyande met mekaar gepraat het en na mekaar geluister het.
Nou, 27 jaar later, het mense verleer om met mekaar te praat of te luister.
Die situasie in 2021 is kompleks en die fokus is nie net politiek nie, maar daar is parallelle.
Daar is selfsug en angstigheid by mense. Covid-19 dra daartoe by, maar dit was al so voor die pandemie. Mense se fokus het verander.
Alles wentel om oorlewing en in die proses kyk ons ons medemens heeltemal mis. Wetteloosheid is aan die orde van die dag, en ek praat nie net van geweld en korrupsie nie.
Die klein dingetjies tel nou meer as ooit. Kom ons wees galant by stopstrate en sirkels, en reik uit met hulp na bure wat swaarkry - langsaan en in buurte ver van ons gewone wandel en weë.
Kom ons begin weer praat en luister.
As ons dit nie doen nie, gaan die sosiaal-ekonomiese bom bars - en dié keer mag dit selfs bloediger wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'