GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Rheebok Stene sal teen die einde van die jaar of vroeg volgende jaar sy tegnologie verbeter om emissies in die Groot-Brakrivier-omgewing te verminder.
Die bestuurder, Hans Môller, het dít verlede week by ’n gemeenskapsvergadering in die Groot Brak-gemeenskapsaal bevestig.
Die maatskappy was al talle kere oor die jare aan die ontvangkant van emissieklagtes vanuit die gemeenskap.
Dit is egter keer op keer bevestig dat die maatskappy aan die Suid-Afrikaanse standaarde vir luggehalte voldoen.
Ten spyte hiervan sê Môller die maatskappy het nog nooit die ingesteldheid gehad om bloot net voort te funksioneer en glad nie aandag aan klagtes uit die gemeenskap nie te skenk nie.
Daarom hul jongste poging om hul emissies te verlaag. Hy het ook verduidelik wat oor die jare gedoen is om die proses van so ’n aard te maak dat dit die gemeenskap minder affekteer.
Groot Brak se belastingbetalersvereniging het tydens die vergadering bevestig hulle was in kontak met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se luggehalte-afdeling, en dié het bevestig dat alles wetlik in orde by Rheebok Stene is.
Môller sê hulle gaan nou ’n roterende droogoond gebruik. Hy sê dit neem ongeveer ses maande om so ’n aanleg op te rig, en hulle planne is reeds opgetrek.
Lede van die gemeenskap wat die vergadering bygewoon het is die geleentheid gegee om vir Môller vrae te vra, en hy het ook ’n uitnodiging aan belangstellendes uitgereik om Rheebok Stene te besoek om meer oor die bedrywighede te leer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’