MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se DA-raadslid vir wyk 8, Lodewyk Coetzee, het om verskoning gevra ná kritiek op ‘n Facebook-plasing wat hy oor die Afrikaner en die Afrikaanse gemeenskap gemaak het.
Skermgrepe van dié plasing, wat op sy persoonlike Facebook-blad was, is deur ‘n inwoner, Steven Montgomery, gedeel en ook daarna op die VF Plus - Mosselbaai se Facebook-blad. Beide het vir Coetzee sterk gekritiseer oor sy uitspraak.
Die plasing is sedertdien verwyder.
Coetzee het onder meer gesê die houding van die meerderheid van Afrikaners is een van uitsluiting, en dat sy dogter dit eerstehands ervaar – ‘n bewys, volgens hom, van dit wat Afrikaanse kinders by die huis geleer word.
“Wanneer sal die Afrikaner besef hulle is nie so spesiaal as wat hulle dink nie? Hulle is nie God se uitverkore mense nie. Die wêreld draai nie rondom Afrikaners nie,” lui die plasing.
Hy gaan voort om te sê hy is skaam vir die aksies van sy kultuur as ‘n Afrikaner en dat as hy gedurende die jare van apartheid ‘n volwassene was, hy teen sy eie mense sou opstaan.
“Dink weer oor hoe jy jou kinders grootmaak, God leer ons dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.”
Die VF Plus sê dit was ‘n direkte aanval op Afrikaners en het op 'n verskoning deur die DA aangedring en ook dat stappe deur die party teen hom geneem moet word.
In Coetzee se verskoning, dié keer op sy Facebook-blad as raadslid, Councillor Lodewyk J Coetzee - Mossel Bay Ward 8, vra hy “onvoorwaardelik” om verskoning vir die “oordeelsfout” wat hy gemaak het deur te veralgemeen dat die “meerderheid van die Afrikaanssprekendes nie sentitief is teenoor ander talige mense nie”.
Hy sê dit was onsensitief van hom, dat hy geleer het uit die ervaring en dat hy moet ag slaan op die “sensitiwiteit wat na aan elkeen se hart lê rondom hul moedertaal, kultuur ens.”.
“Alhoewel my bedoeling nie was om enige iemand te affronteer nie, was die teendeel wat uitgespeel het en deur ‘n persoonlike kwelpunt so breed te veralgemeen het ek meer skade as goed gedoen.”
Hy sê hy is passievol oor sy taal en kultuur en dit is vir hom belangrik dat sy eie taal en kultuur sowel as die ander tale en kulture in ons land voortleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’