MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die koevert-oopmaak-oomblik was vir Quré Roets "nogals 'n lekker gevoel" en die punte baie beter as wat sy verwag het, maar daar was vir seker 'n bietjie angs toe die koevert nog toe was!
"Ek sal sê ek is tevrede," sê dié Hoërskool Punt-leerder. Sy het derde onder haar skool se top 10 geëindig.
"Die wiskunde en die fisies [fisiese wetenskappe] kon miskien 'n bietjie hoër gewees het, maar vir hoe ek geskryf het, is ek baie tevrede," het sy Dinsdag 13 Januarie by Punt Hoër se matriekuitslagvrystelling gesê.
Roets is vanjaar op pad na die Universiteit van Stellenbosch toe, waar sy vir BRek aansoek gedoen het - sy wil graag 'n geoktrooieerde rekenmeester word.
VIDEO: Quré gesels met Mossel Bay Advertiser oor haar uitslae en jaar
"Ek het net 'n groot liefde vir syfers, om goed te ontleed en probleemoplossing, en ek het gedink ek wil besighede baie graag met hulle finansiële state help."
Roets sê dit het vir haar gevoel asof hulle net die hele matriekjaar lank eksamen skryf. "Sodra die een klaar is, dan moet jy solank begin leer vir die volgende een."
Die moeilikste ding vir haar was die uithouvermoë om nog steeds elke dag daardie sit-en-leer-selfdissipline te behou.
In matriek doen jy ook baie dinge vir die laaste keer, hetsy iets akademies of pret saam met vriende. Roets sê dit was wat die jaar vir haar lekker gemaak het, én dit het sommer gehelp met die motivering ook!
Vrye tyd was daar nou nie veel van nie, maar Roets het graag die tyd wat sy wél gehad het vir 'n welverdiende middagslapie gebruik. "Ek het ook net 'n bietjie musiek geluister of buite gestap, net om asem te skep."
Dít, of familietyd en rustig wees, het die stiller oomblikke gevul.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’