MOSSELBAAI NUUS - Willie Proudfoot, 'n staatmaker veral wat gemeenskapsveiligheid op Mosselbaai betref, is op 17 Desember oorlede.
Proudfoot was 57 jaar oud. Volgens sy seun, Willie, was Proudfoot vroeër jare verbonde aan Sasol voor hy in 1991 in Mosselbaai hervestig het om vir die eertydse Mossgas te kom werk.
Vanweë gesondheidsredes moes Proudfoot in 2004 uit diens tree.
"Hy was altyd daar vir sy gemeenskap en het nooit teruggestaan as mense hulp nodig gehad het nie. My pa was veral lief om gemeenskapsprojekte aan te pak." Hy het veral sy jongste dogter, Justine Proudfoot, 'n bekroonde jong skoonheid bygestaan in haar modelwerk en die projekte wat daarmee gepaard gaan. 'n Man met 'n ruim hart, het hy graag deelgeneem aan inisiatiewe waar daar kos vir die behoeftiges ingesamel is. Van sy laaste projekte, aldus sy seun, was die Power Tower of Love, waarvolgens blikkieskos bymekaargemaak is.
"Ons was ook besig met 'n Kersprojek waarna hy so uitgesien het."
Proudfoot het jarelank 'n sterk ondersteunende en aktiewe rol in die gemeenskapspolisieforum van KwaNonqaba gespeel.
"Willie Proudfoot was 'n absolute steunpilaar en iemand wat beslis 'n groot, groot hart vir die gemeenskap gehad het. Sy afsterwe is vir ons 'n groot skok en sy insette in gemeenskapsveiligheid sal beslis gemis word," berig sers Kappie Kapp, kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie.
Proudfoot was 'n diabeet en het vanweë natuurlike oorsake in 'n plaaslike hospitaal afgesterf.
"Ons gaan hom baie mis. Hy was ons rots en ons anker. Ons het als as gesin saam gedoen." Proudfout laat sy vrou Mandie, dogters Angelique, Justine en seuns Willie en Victor agter, asook twee kleinkinders.
Die familie hou 'n privaat verassing, maar daar sal te gelegener tyd soos die Covid-19-maatreels verslap word 'n viering van Willie Proudfoot se lewe gehou word. "Ons beplan 'n massarit waarby plaaslike motorfietsryers betrokke sal wees."
Vir meer inligting, kontak Willie Proudfoot junior (076 993 7368).
Willie Proudfoot
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'