GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Dit blyk dat die krisis om vuurwapenlisensies by die Groot-Brakrivier-polisiestasie te hernu, opgelos is.
Dit volg nadat 'n plaaslike jagter en inwoner, Blackie Swart hom na die Mossel Bay Advertiser gewend het uit radeloosheid nadat hy na verskeie pogings om sy vuurwapenlisensies te hernu, weggewys is.
Volgens Swart was daar niemand by die polisiestasie beskikbaar om hom te help nie en is hy van bakboord na stuurboord gestuur.
Ander polisiestasies kon Swart ook nie help nie, omdat dit glo by die polisiestasie in sy woonbuurt gedoen moes word.
Hy het wel 'n beëdigde verklaring afgelê waarin hy bevestig het dat hy verskeie pogings aangewend het om die vuurwapenlisensies te hernu.
Die Advertiser het intussen navrae aan die polisie se kommunikasiebeampte, kapt Malcolm Pojie gerig.
Pojie het die afgelope week bevestig dat Swart dringend met die stasiebevelvoerder in verbinding moes tree om die proses van stapel te stuur.
"Professionele dienslewering aan gemeenskappe bly hoog op ons agenda en ons poog altyd om almal te akkomodeer binne ons bevoegdheid en met beskikking van nodige hulpmiddels en hulpbronne," het Pojie gesê.
'n Verligte Swart het op Woensdag, 10 Maart aan die Advertiser bevestig dat hy 'n afspraak gekry het om sy vuurwapenlisensies te henu en dat die probleem opgelos is.
"Ek is baie dankbaar en dankbaar vir die goeie diens wat ek die afgelope week van die polisie ontvang het."
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'