GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die poskantoor op Groot-Brakrivier was die afgelope week gesluit nadat vier gewapende mans dit verlede Woensdag,3 Junie beroof het.
Die verdagtes het ook die sekuriteitsbeampte van Fidelity Guards wat daagliks by die poskantoor werk, van sy vuurwapen beroof. Kommunikasiebeampte van die polisie op Groot-Brakrivier, sersant Laurianne Botha sê die verdagtes het die poskantoor se werknemers met vuurwapens gedreig en hulle gedwing om geld wat in die kluis was te oorhandig.
Woordvoerder van die poskantoor Emma Tshatsinde het bevestig daar was vyf werknemers in die gebou ten tye van die voorval.
Die verdagtes het daarna met 'n onbekende kontantbedrag te voet gevlug en is steeds op vrye voet.
Tshatsinde kon nie bevestig hoeveel geld gesteel is nie, omdat hulle steeds besig is met die ondersoek. Intussen het 'n werknemer van die poskantoor aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat hulle berading ontvang.
Die werknemer het ook bevestig dat 'n vrou wat by die poskantoor werk en wat die voorval aanskou het, vir 'n tweede keer in 'n plaaslike hospitaal opgeneem is weens stresverwante simptome.
Tshatsinde sê dit is nog onduidelik wanneer die poskantoor weer sal heropen, omdat personeel steeds traumaberading ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'