MOSSELBAAI NUUS - Dis nie aldag dat 'n mens in jou beroep die kans kry om op te tree soos 'n karakter in 'n aksiefliek met 'n groot begroting nie, wat nog te sê daarvoor beloon te word.
Hierdie geluk, die potensiële gevaar ten spyt, het twee Suid-Kaapse lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te beurt geval toe hulle vandeesmaand op meriete 'n monetêre toekenning ontvang het vir dienste verrig tydens die in hegtenisneming van 'n verdagte.
Op 8 Januarie het sers JM Spangeberg en konst Christaan Zwiegelaar, terwyl hulle onderweg vanaf George na Mosselbaai op die N2 gery het, gesien hoe 'n vrou uit 'n bewegende voertuig, 'n wit VW Golf op die N2 spring. Sersant Spangeberg en konst Zwiegelaar het die beseerde vrou bygestaan wat geblyk het of sy 'n nekbesering het.
Die bestuurder van die voertuig waaruit die vrou gespring het, het intussen omgedraai en in sers Spangeberg en die slagoffer se rigting beweeg. Daar was nog 'n passasier steeds binne die voertuig wat probeer het om beheer oor die stuurwiel te verkry.
Die aankomende voertuig het sers Spangeberg en die slagoffer rakelings gemis en in die proses op 'n graswal tot stilstand gekom. Dit het sers Spangeberg die geleentheid gegee om die ander passasier uit die voertuig te bevry en na veiligheid te bring.
Die bestuurder van die voertuig het daarin geslaag om weer te ontvlug en het in die rigting van Mosselbaai gejaag. Die polisielede het uitgevind dat die bestuurder van die voertuig kort voor die voorval uit Valkenburg psigiatriese hospitaal ontslaan is.
Die bestuurder het toe weggejaag teen 'n hoë spoed en is agternagesit deur die polisie.
Die voertuig is eers naby Mosselbaai, in die omgewing van die Langeberg Mall en Shell Voorbaai deur die polisielede tot stilstand gedwing nadat sers Spangeberg drie skote na die voertuig se agterwiel gevuur het. Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem en onder meer aangekla van poging tot moord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'