GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Daar was 'n groot oproer op Groot-Brakrivier vandeesweek ná pille glo in pakkies skyfies gevind is, wat na bewering by spazawinkels aangekoop is.
Die verskaffer Truda Foods is een van die handelsmerke wat daarmee verbind word, maar het dit onomwonde gestel dat dit onmoontlik is vir pille om in sy pakkies skyfies te beland.
"Die enigste manier hoe dit daar kon beland het, is as iemand die pakkie oopgemaak en die pille daarin geplaas het," sê Sloane Lang van dié verskaffer se bemarkingsafdeling.
Ná die pil-klagtes ontvang is, het verskeie rolspelers, insluitend die polisie, wetstoepassing en die provinsiale departement van gesondheid en welstand, Woensdag, 6 November, inspeksies by die spazawinkels uitgevoer waar die skyfies glo vandaan kom.
Woordvoerder vir die polisie op Groot Brak, sers Lauriane Botha, sê daar is pakkies skyfies by dié winkels oopgemaak, maar geen pille is daarin gevind nie en die winkels voldoen aan die nodige vereistes. Dié winkels is in die Groot Brak-omgewing en Friemersheim geleë.
Mossel Bay Advertiser het ook Woensdag twee spazawinkels besoek, een in Greenhaven en een op Wolwedans. Beide eienaars sê hulle is bewus van die klagtes wat die ronde doen, maar dat daar niks skort met die produkte in hul winkels nie.
Een van die eienaars, Ahmed Yussuf, sê, sou enigiemand fout vind met sy produkte moet hulle dit bring en hy sal ook die polisie bel. Hy sê egter ná die klagtes wat die ronde doen, koop hy nie meer die goedkoper skyfies aan nie, want hy wil nie moeilikheid vir sy winkel hê nie.
Spazawinkeleienaar
Die ander eienaar, Mamushe Hegana, sê ook daar is niks fout met sy produkte nie en dat die polisie reeds ondersoek ingestel en niks fout gevind het by hom nie.
Woordvoerder vir die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM), Herman Pieters, het reeds voor die inspeksies gesê omgewingsgesondheidspraktisyns, in samewerking met verskeie rolspelers, is besig met 'n ondersoek.
Die tipe medikasie wat gevind is, die hoeveelheid spazawinkels na bewering betrokke, asook die handelsmerke, vorm alles deel van die ondersoek wat tans onderweg is.
Hy sê na afloop van die ondersoek sal meer besonderhede bekendgemaak word. Om byvoorbeeld die tipe medikasie te bepaal, moet die polisie dit wegstuur na 'n laboratorium.
Die Advertiser het vir Pieters gevra watter stappe geneem sal word indien dit vermoed word dat hierdie produkte wat moontlik pille/medikasie bevat, steeds op die rakke is.
"Produkte van die handelsmerke sal verwyder word van die rakke in die areas vir verdere ondersoeke," het hy gesê.
In Truda Foods se antwoord op die Advertiser se navrae, het Lang gesê hulle is bewus van die insidente, maar op die vraag oor of hulle weet watter medikasie gevind is het sy gesê, "Ons weet absoluut niks van pille wat in 'n pakkie geplaas is ná dit oopgemaak is nie."
Lang sê hul skyfies word verpak en sekuur geseël in hul fabrieke en dat slegs mielieprodukte in dié fabrieke hanteer word. Sy sê ook dit is onmoontlik dat pille per abuis in so 'n pakkie skyfies kan beland.
Die maatskappy gaan so ver om die voorval 'n "klug" te noem.
Op die Advertiser se vraag oor of 'n ondersoek geloods sal word het Lang gesê, "Ja, ons ondersoek elke enkele een van dié klugte." Een van hul verkoopsverteen-woordigers was reeds vroeër in die week op Groot Brak om op te volg oor die voorval.
Geen produkte word ook herroep nie - "Natuurlik nie, soos genoem, hierdie is 'n klug/fopnuus," sê Lang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’