MOSSELBAAI NUUS - As jy dalk al gedink het daar is op Sondae 'n buitengewone hoeveelheid ouer motors by Die Punt, het jy jouself nie verbeel nie.
Deon Strydom en Richard Meiring was die aanvanklike manne agter dié geleentheid, waarna Jacques Mostert en Kobus Botha ook agter die stuur ingeklim het.
Strydom sê hulle het besef hier is "'n hele paar ouens wat hulle karre wegsteek in waenhuise en skure en onder duvets in hulle garage". Toe besluit hulle om hierdie voertuie 'n uitkomkans te gee.
Nou kom hulle elke Sondag so tussen 08:00 en 12:00 by Die Punt bymekaar vir 'n saamtrek wat hulle die "Punt-karre, -koffie en -motorfietse" gedoop het.
En ieder en elk is welkom. "Man, as jy jou Golf GTI wil bring, dan bring jy jou Golf GTI - as jy trots is op jou wiele (want ons is almal nou maar 'n klomp petrolkoppe), dan bring jy hulle Sondag Punt toe," sê Strydom.
Hulle hou van enige ding op wiele, of hy nou mooi, blink, vinnig, stadig, hoog of laag is.
Organiseerders Deon Strydom, Jacques Mostert en Kobus Botha by die Punt.
Hy sê hulle het al besoekers van so ver as George, Albertinia, Knysna en selfs Swellendam hier gehad. Volgens Strydom is dit net 'n geleentheid om mekaar te ontmoet ek lekker te gesels en kuier. Hulle kom bymekaar, koop 'n koffietjie, ondersteun die besighede by Die Punt en geniet 'n rustige Sondag saam.
Soms is daar ook so 'n bietjie kompetisie tussen die wiele. Strydom sê hulle deel dan vir die wiel-eienaars nommers uit, dan kan lede van die publiek sê watter is hulle gunstelinge.
Die stemme word aan die einde van die dag getel en die wenners kry pryse - groot of klein, afhangend van wat die rolspelers geborg het.
Maar Strydom benadruk dat dit nie is waaroor die hele ding gaan nie, en daar is ook nie spesifieke Sondae waarop daar byvoorbeeld pryse is nie. Die idee is dat motor- en motorfietsentoesiaste, wanneer hulle kan of die week lus het, 'n draai kom maak en gesellig saam verkeer. Daar is selfs 'n WhatsApp-groep vir belangstellendes.
Vir enige navrae rondom die dag, kontak vir Strydom by 084 400 7169 of Mostert by 083 778 7898.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’