MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap met sy skilderagtige dorpe het almal iets in gemeen en dit is geboue met gewels wat ons aan die groot statige Kaaps-Hollandse geboue herinner
Die benaming Kaaps-Hollands, soos die meeste kunsterme, is nie 'n suiwer beskrywing nie aangesien daar in dié styl ook Franse en Duitse invloede te bespeur is.
Die term word algemeen in Suid-Afrika aanvaar en dit verteenwoordig die boustyl van die Kaapse koloniste tot aan die einde van die Nederlandse bewind (1895). Gewels staan in die lig van standvastigheid, bruikbaarheid en skoonheid.
Nadat die Boere-republieke ná afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die Britse Ryk opgeneem is, het die Afrikaner sy geskiedenis opnuut ontdek. Uit die volksgeskiedenis moes bindkrag vir die volk gevind word vir 'n eie identiteit en erfenis teen die Britse kultuur-invloede.
Cecil John Rhodes was in daardie stadium die premier aan die Kaap. Hy het Sir Herbert Baker opdrag gegee om 'n eg Suid-Afrikaanse boukuns te ontwikkel wat die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners aan hulle trotse verlede moes herinner. Rhodes het hierdie boukuns as 'n politieke uitdrukkingsvorm beskou.
Herbert besluit om geboue met gewels te ontwerp. Die nuwe styl word as die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl bekend en het in Suid-Afrika se geskiedenis begin bloei. Baie Suid-Afrikaners kon hulle met die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl identifiseer, want hierdie nuwe styl het hulle aan hulle trotse verlede herinner. Dit was veral vir die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner 'n weerspieëling van sy behoeftes. Die assosiasie van die Afrikaner met die styl was dikwels sterker as wat die argitektoniese waarde geregverdig het.
Vir baie argitekte het dit dikwels om die hergebruik van die dekoratiewe elemente gegaan en nie soseer oor die emosie wat in die argitektuur vasgevang is nie. Die gewildheid van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl het na Uniewording in 1910 verder toegeneem. Die styl was gewild tot voor die Tweede Wêreldoorlog.
Hierdie styl het ook gemanifesteer in spoorweg-geboue, poskantore, koshuise en skoolgeboue. Baker het slegs materiaal gebruik wat in Suid-Afrika vervaardig is. Vir hom moes argitektuur inheems wees. Voor die koms van Baker is die meeste boumateriaal ingevoer, maar hy het bewys dat hout, glas en klip goeie boumateriaal is. Baker kan dus beskou word as die vader van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl. Die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl het gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu in twee fases gemanifesteer. In die eerste fase het dit veral in woonhuise na vore gekom en in die tweede fase in die styl van openbare geboue.
Die kenmerkendste element van die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl is die gewel. Dit is eenvoudiger as die Kaaps-Hollandse gewels. In deftiger huise en in openbare geboue is soms ook van uitgesnyde boligte gebruik. Van die bekendste elemente was die gebruik van verandas en skoorstene wat 'n asimmetriese voorkoms aan die huise gegee het. By woonhuise en sommige staatsgeboue was die gebruik van Venesiaanse vensters een van sy kenmerke.
In die Suid-Kaap is daar woonhuise, kerke en staatsgeboue met Kaaps-Hollandse Herlewings gewels.
'n Woonhuis op Albertinia.
Die NG kerksaal op Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’