MOSSELBAAI NUUS - 'n Groot groep van 192 spelers het op Woensdag, 22 Februarie by Mosselbaai-gholfklub aangemeld om deel te vorm van die altyd heerlike Sakemanne-gholfdag. Die dag het egter aan die 78-jarige Pat Good behoort wat slegs 78 houe nodig gehad het om sy rondte te voltooi.
Dit is elke speler se droom om sy ouderdom te klop of te ewenaar en Pat het hierdie besonderse prestasie vermag. Veels geluk Pat.
Die wenners van die gekombineerde stablefordkompetisie was Johan Labuschagne en Chris van den Berg op ‘n uitmuntende totaal van 76 punte.
Pat Good en André Bruwer se 75 punte het hulle as naaswenners prystafel toe laat stap.
Chris Barnard en Dawid Gerber se ewe verdienstelike 74 punte het hulle in die derde plek geplaas nadat hulle teen Manny Ascencao en Carlos Pinto die beste gevaar het in die uittel-proses. Tony Muller en sy spookmaat het met 73 houe die vyfde plek verower.
Saterdag
Saterdag, 25 Februarie het twee van die klub se langslaners, Chris Brits en David Wandrag, die bal in spel gehou en met 46 punte in die beterbal stablefordkompetisie die louere ingeoes. Dit het egter nie so maklik gegaan nie en hulle moes eers wag vir die uittel-proses voor die vaandel hoog geswaai kon word.
In die tweede en derde plekke, ook op 46 punte, het Barry Tooth en Wessel Brand, asook André Zeelie en sy spookmaat, hulle stemme dik gemaak.
Twee van die klub se jonger garde, WG Stauss en Jean Borchardt was ook deel van die uittel-proses op 46 punte en dit het aan hulle die vierde plek besorg. Johan van den Berg en Gielie Gagiano kon met hulle 44 punte ook nog ‘n heerlike vuurtjie gaan aansteek met die verowering van die vyfde prys.
Die winter uitklopfinaal van 2022 kon as gevolg van omstandighede eers in die nuwe jaar beslis word. Chris Barnard en Gert Pieterse het hulle goed van hulle taak gekwyt, maar kon eers op die sewentiende putjie finaal die oorhand teen Gert Brink en Craffie Crafford kry. Veels geluk Chris en Gert.
Wenners van die Sakemannedag is van links, Chris Barnard, Carlos Pinto, Manny Ascencao, Gordon Engelbrecht (raadslid), Pat Good, Johan Labuschagne en Eddie Geffin.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'