Die SA Polisiediens beamptes van Mosselbaai Polisiestasie, brandbestryders van Mosselbaai Brandweer en die munisipale verkeersbeamptes was binne oomblikke na die noodoproep op die toneel.
Die verrigtinge het deel uitgemaak van die wetlike vereistes van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (Wet nr 85 van 1993), waarvolgens daar jaarliks 'n ramp en ontruimingsoefening by die hospitaal gehou moet word.
'n Brand is gesimuleer in een van die hospitaal se afdelings, en om 09:00 is die eerste oproep na die Brandweer en die SAPD gemaak. "Die respons van die nooddienste was uiters professioneel, en die volledige span was binne minute nadat hulle van die brand in kennis gestel is, op die toneel", berig 'n baie tevrede hospitaalbestuurder, mev Lida Swart.
Die SAPD en Verkeersdepartement het die area afgebaken om te verseker dat geen ongemagtigde voertuie toegang tot die perseel verky nie. Personeel en pasiënte van die betrokke afdeling moes die gebou ontruim.
'n Situasie waar 'n pasiënt vassit in 'n badkamer, is ook nageboots. Die pasiënt moes met behulp van die brandweer ontruim word.
Die oefening is binne 20 minute afgehandel en al die betrokke partye is dit eens dat die oefening 'n groot sukses was.
"Life Bay View Hospitaal se bestuur wil van die geleentheid gebruik maak om al die betrokke nooddienste te bedank vir hulle bereidwilligheid om deel te wees van die nood-oefening, en vir veral hulle flink en professionele optrede,” het mev Swart, na afloop van die oefening aan die Mossel Bay Advertiser gesê.

Die ontruiming van die saal wat vir die noodoefening gebruik is, het ordelik en georganiseerd plaasgevind. Foto: Verskaf
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'