MOSSELBAAI NUUS - Outisme het die Van Niekerks se lewens op maniere verander wat soms seermaak en soms stil-stil mooi was, sê Marlene van Niekerk.
"Daar is dae van alleen voel, van nie verstaan word nie… maar dan is daar Marco."
Marlene en haar man, Jaco, se Marco met sy suiwer hart is nou 'n volwasse jong man van 21, maar is reeds op twee jaar oud met outisme gediagnoseer.
"[Hy is] die eerlikste, reguitste mens wat ek ken. Sonder maskers, sonder voorgee - net hy. Eenkeer het hy gesê: 'Die wêreld dink ek is anders, maar vir God is ek presies.' En in daardie woorde lê alles," sê Marlene.
Besef en diagnose
Sy het vroeg in haar seun se lewe reeds agtergekom dat iets anders is. "Marco was baie sensories en wou byvoorbeeld nie vaste kos eet nie. Dit het ook vir my gelyk asof hy my soms nie kon hoor nie, al was hy ongelooflik slim. Teen die ouderdom van twee en 'n half het sekere dinge meer begin uitstaan - hy het selde oogkontak gemaak en het die wêreld op sy eie, unieke manier ervaar. Dit is toe dat ek besluit het om 'n dokter te gaan sien om beter te verstaan wat aangaan."
Marlene sê in 2004, die jaar toe Marco gebore is, was daar nog min bewustheid en begrip rondom outismespektrumversteuring.
Hy het vir baie mense bloot soos 'n stoute kind gelyk, en min het werklik verstaan wat agter sy gedrag lê. "Dit het die proses moeilik gemaak, want ek moes self antwoorde gaan soek sonder baie leiding of ondersteuning. Die pad na 'n diagnose was lank en soms uitdagend, en dit was nie maklik om by die regte dokter uit te kom nie. Daar was onsekerheid en vrae, maar ook 'n sterk gevoel dat ek moet aanhou soek na antwoorde vir my kind."
Marlene, Jaco en Marco van Niekerk. Foto: Verskaf
Uitdagings en verstaan
Soos baie ander met outismespektrumversteuring, ervaar Marco ook uitdagings. Volgens Marlene kan sensoriese oorlading soms vir hom moeilik wees, en sekere situasies kan hom oorweldig. Kommunikasie en sosiale interaksie kan ook uitdagend wees, veral wanneer mense hom nie verstaan nie.
"Maar ten spyte van dit alles, wys Marco elke dag ongelooflike deursettingsvermoë en leer hy ons as gesin om die wêreld met meer geduld en begrip te sien - ons liefde vir hom is onmeetbaar.
"Hy het ongelooflike mooi eienskappe wat hom besonders maak. Hy is baie slim en het 'n spesiale manier om dinge raak te sien wat ander mense soms miskyk."
Sommige mense verstaan, ander nie, sê Marlene. "My ervaring van mense se verdraagsaamheid teenoor Marco is wisselend. Daar is dié wat begrip toon, maar daar is steeds 'n groot tekort aan werklike insig oor outisme. Wat selde raakgesien word, is hoe hard hy self werk om in die samelewing in te pas.
"Daagliks probeer hy aanpas, verstaan en funksioneer in 'n wêreld wat hom nie altyd tegemoetkom nie.
"Dit laat my dikwels wens dat die samelewing dieselfde moeite sal doen om hom te verstaan as wat hy doen om daaraan te behoort."
'n Lisensie en 'n karwassery
Sy sê hy is iemand wat nooit opgee nie. Hy probeer weer en weer, selfs wanneer dinge moeilik is of langer vat as vir ander. Juis daarom het hy in Mei verlede jaar 'n hoogtepunt in sy lewe bereik - om sy bestuurslisensie te kry. Dít was 'n oomblik van trots, groei en ongelooflike deursettingsvermoë, sê sy ma.
Hulle woon al sedert 2020 in Mosselbaai, 'n groot skuif vir hul gesin en 'n plek van groei en leer.
"Vir Marco was die aanpassing nie altyd maklik nie. Daar is 'n groot, opregte behoefte in hom om 'n vriend te hê - iemand om dinge mee saam te doen, te lag en net die lewe mee te deel," sê Marlene.
Hulle het De Bakke Karwas verlede November vir hom gekoop, en die slagspreuk, "A car wash with a purpose", bygevoeg. Dié onderneming het 'n baie spesiale rol in sy lewe begin speel, vertel sy. Hy doen onder meer die inspeksies van die voertuie en help met die betalings.
"Dit is nie net werk nie - dit is 'n plek waar hy elke dag leer: verantwoordelikheid, lewensvaardighede en selfvertroue.
"Stukkie vir stukkie groei hy daar, en ons sien hoe hy sterker word in homself - hy voel hy kan iets vir iemand beteken." Hier het hulle ook al ander kinders op die spektrum met klein werkies gehelp, sê Marlene.
As mense net kan verstaan en onthou dat iemand met outisme nie 'n gebrek aan wil het nie, en dat daar altyd 'n groot poging agter die stil of anderse reaksie is, sê hierdie ma, sou daar baie meer begrip en baie minder oordeel wees.
"Marco leer ons elke dag om stadiger te kyk, dieper te verstaan en meer liefde te hê vir mense soos hulle is. Hy is nie net deel van ons storie nie - hy is die hart daarvan."
Radio33 is tans besig met 'n onderhoudreeks, ook vir outismebewusmaking, en Marlene was op 4 Mei deel daarvan. Voor haar was ander plaaslike ma's, Christine Jordaan en Marilize Swart, op 27 April op die lug, en nog 'n ma, Donnagene Fourie, gesels om 19:00 op 11 Mei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’