Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Bekende in rugbykringe en breier van 'n ongekende aantal rugbyspelers, woon nou op Reebok en het sy wedervaringe as onderwyser, adjunkhoof en rugby-afrigter neergepen en in boekvorm vasgevat.
Dries van der Wal het einde Oktober 2016 die tuig neergelê.
Gedurende sy loopbaan het hy en sy mede-afrigters 25 rugbyspelers van Grey Kollege in Bloemfontein se 44 Springbokke tydens hulle skooljare gebrei.
Hulle het ook 36 SA- skolespelers in hul verkose jare, asook 283 Cravenweek-spelers as eerstespan-afrigter help slyp.
Hy was vir 23 jaar lank die adjunkhoof van Grey Kollege en terselfdertyd, koshuisvader van Leith Huis. 'n Allemintige 23 jaar lank was hy deel van die afrigterspan van Grey Kollege se eerste rugbyspan en vir nog sewe jaar, die spanbestuurder. In totaal was hy 30 jaar by die eerstespan betrokke. Sy boek, Grey’t stories en staaltjies oor 36 jaar, het begin Januarie die lig gesien.
Kyk 'n video hieronder:
Vir behoud
“Ek het die boek geskryf om een rede. Ek wil nie hê dat die stories en staaltjies van legendariese oud-onderwysers en seuns verlore moet gaan nie. Elke skool in die land het legendes en die nageslag moet hulle vir altyd onthou. Die samelewing het verander en so ook die skoolomgewing. Ek dink nie jy gaan meer onderwysers kry wat vir 30 plus jare by ‘n enkele skool bly nie,” sê hy.
Hy sê die jong geslag is kriewelrig en hou daarvan om aan te beweeg en vooruit te gaan, wat nie verkeerd is nie. Vir die ou geslag was lojaliteit, stabiliteit en geluk dalk soms te belangrik. Die ouer garde, hy spesifiek, het geheg en lief geraak vir ‘n skool en nie om bevorderingsposte aansoek gedoen nie. Soms tot sy eie finansiële nadeel.
“Ons kon ook soms aanbeweeg het met groter pensioenvoordele, maar weer eens, dit was ons keuse om aan te bly. Meeste van ons is nie spyt nie,” vertel hy.
Volgens hom leef personeel en kinders en baie keer ook ouers, naby aan mekaar. Hulle is saam in die klaskamer, op en langs die sportveld, in die sangklas, ook op toer. Hulle bly saam in hotelle, koshuise en selfs skoolsale. “Hoe kon daar nie stories en staaltjies uit dit alles voortspruit nie?"
Vir Van der Wal was dit ‘n voorreg om seuns manne en groot sakemanne te sien word, boerseuns suksesvolle boere te sien word, onder 14-rugbyspelers Springbokke te sien word. “Om in te stap in ‘n spreekkamer van ‘n dokter of spesialis, of om in te stap by ‘n finansiële instansie en voor jou sit ‘n 'man', die dokter of bestuurder en jy onthou hom nog as jong skoolseun in jou klas is 'n voorreg,” brei Van der Wal uit.
“Miskien het jy dalk net iets bygedra tot hom as mens of vir hom iets gesê wat hy nooit sal vergeet nie. Daarom is dit ‘n ongelooflike voorreg en eer om ‘n onderwyser te kon wees. Miskien het jy hom die ondersteuning gegee toe almal hom afgeskryf het.”
Volg die Facebookblad; Grey’t stories en staaltjies oor 36 jaar vir besonderhede om 'n kopie van die boek te bekom.
Biografie
Dries van der Wal is op 24 Oktober 1951 in Griekwastad in die Noord-Kaap gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Griekwastad in 1969. Die skool spog self met twee Springbok-rugbyspelers, Joggie en Eben Jansen. Dié skool het ook etlike Griekwa- rugbyspelers opgelewer.
Na sy weermagopleiding begin hy studeer aan die Universiteit van die Vrystaat of Kovsies soos dit destyds bekend was. Hy behaal sy BA (Hons), B Ed en HOD en speel vir die universiteit se o/20-, Irawas- en Shimlas-rugbyspanne. Van de Wal speel ook vir die Vrystaat o/20- asook die senior Vrystaat B-rugbyspanne.
Hy begin sy onderwysloopbaan aan die St Andrew’s School in Bloemfontein. In dié vyf gelukkige jare, bied hy Afrikaans as tweede taal aan en rig die o/15-rugbyspan af.
Grey
In 1981 begin hy by Grey Kollege skoolhou. Hier bly hy vir ‘n amper 36 jaar. Hy bied hoofsaaklik Aardrykskunde aan, maar het ook Geskiedenis, Afrikaans en Voorligting aangebied.
Met sy aankoms rig hy Grey se o/15 A- en B-spanne saam met Ernest Schoeman af. Jos Labuschagne en Stonie Steenkamp, twee Grey-legendes, het in daardie stadium Grey se eerste rugbyspan afgerig.
“Met Steenkamp se skuif na die Universiteit van die Vrystaat in 1984, het Jos Labuschagne my gevra om saam met hom die eerste rugbyspan af te rig. Ek het saam met hom afgerig tot en met 1992. Hierna het nog wonderlike mentors, saam met wie ek afgerig het, gevolg. Dit sluit Andrè Swanepoel en Jaco Swanepoel, asook Ingo Machts in.”
Later as spanbestuurder, het hy saam met eerstespanafrigters soos Roelf Meyer en Wessel du Plessis gewerk. Behalwe vir al die afrigters, het die kondisioeneringsafrigters, soos André Volsteedt , Hein Vosloo, Machiel Badenhorst asook James Wessels, lank die fisioterapeut, ‘n enorme rol in die sukses van die eerstespan gespeel.
“Ek was vir 23 jaar die adjunkhoof by Grey Kollege in Bloemfontein, asook 23 jaar die koshuisvader van Leith Huis. Wat ‘n ongelooflike ervaring. Ek was vir 23 jaar deel van die afrigterspan van Grey Kollege se eerste rugbyspan en vir nog 7 jaar die spanbestuurder. In totaal, was ek 30 jaar by die eerstespan betrokke.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'