Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Met die groeiende spanning in Oekraïne, is meeste plaaslike ma's waarskynlik dankbaar dat hulle pa's, mans, broers en veral seuns veilig binne die landsgrense is.
Dieselfde geld egter nie vir 'n ma van Mosselbaai nie, alhoewel haar seun tans sy lewendroom as 'n lid van die Franse Vreemdelinge-legioen uitleef.
Dié mag is tans op bystand na aanleiding van die Russiese inval op Oekraïne.
Wian de Bruyn, oud-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale en voorheen van Laerskool Vorentoe op Groot Brak se pa, Pieter, was 'n valskermsoldaat. Hy het aan die Bosoorlog deelgeneem en sy huisvriende is valskermveterane en recces.
Wian het oorlogskuns spreekwoordelik saam met moedersmelk ingekry.
In sy graad 11-jaar, vertel sy ma Isabel, het hy eendag by die huis gekom en gesê: "Mamma, ek wil Franse Legioen toe gaan." Sy het hom gevra of hy weet waarvoor hy hom inlaat, maar sy besluit was geneem.
Agt uit 100
Pieter vertel dat 'n mens nêrens in die wêreld kan aansoek doen om deel van hierdie mag te word nie. Wian het in Parys geland, net met 'n rugsak oor die skouer en gaan aanklop by Fort de Nogent, net buite Frankryk, met net genoeg euro's in sy beursie om die taxi te betaal.
Volgens Pieter is dit van die moeilikste plekke ter wêreld om jou "vleuels" te kry. Slegs agt uit elke 100 aansoeke, slaag. Boonop moet voornemende soldate 400 woorde Frans aan die einde van hulle basiese opleiding kan praat.
"Die Vreemdelinge-legioen is nie vir almal nie. Jy moet gebore wees om dit te wil doen. Avontuurlus en om superfiks te wees is 'n moet."
Wian is nou in sy sesde maand by die Franse Vreemdelinge-legioen en volgens Pieter is sy seun "supergelukkig". Daar is ongeveer 40 Suid-Afrikaners in die Legioen, wat uit lede van tot 50 lande bestaan.
Bystand
Vir die eerste paar maande kon Wian geen kontak met familie maak nie. Selfone word afgeneem en met sy aansoek, kry elke voornemende lid 'n nuwe identiteit. Tans, is hy en sy makkers op bystand te midde die konflik in Oekraïne.
"Dis baie, baie moeilik vir 'n ma. Ek en Wian is baie na aan mekaar. Toe hy die naweek met ons mag praat, het hy gesê hulle kan enige oomblik opgeroep word. Hy het gesê ek moenie worry nie, hy kom weer terug huis toe en ook dat ek na die maan moet kyk en weet hy dink aan my," vertel Isabel.
FOTOGALERY: Wian de Bruyn, oud-leerder van Hoër Landbouskool Oakdale
Pieter sê valskermsoldate wêreldwyd is een groot familie. Ook hy en Wian is nou meer as pa en seun.
"Ons is nou airborn brothers." Pieter en Isabel loop oor van trots, al is daar op die oomblik kommer oor die situasie in Europa.
Teen druktyd het Isabel berig dat Wian tans op Calvi in Corsica is, waar hy sy valskerm-opleiding gedoen het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'