MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se GROEI-strategie fokus daarop om stukrag aan die plaaslike ekonomie te gee.
Deel van dié strategie vind gestalte in die besigheidsentrums soos die D’Almeida Beehives en Kwano Business Park, wat reeds die afgelope paar jaar suksesvol sake doen.
Wolwedans, Groot-Brakrivier is die volgende area wat by die inisiatief sal baat. Hier is ‘n paar vinnige feite oor die munisipaliteit se besigheidsentrums.
- Hoe lank is die Wolwedans-projek reeds aan die gang?
Die Wolwedans-besigheidsentrum het reeds in 2021 sy bestaan gehad. Daar is aanvanklik gehuurde vraghouers geplaas, totdat die munisipaliteit hierdie bestaande fasiliteite opgeknap het.
- Hoeveel besigheidsparke is daar tans in bedryf en wanneer is die projek begin?
Daar is tans sewe besigheidsentrums in die Mosselbaai-omgewing. Die eerste besigheidsentrum is in 2012 geskep toe ERF 6412 in D’Almeida omskep is in ‘n vraghouerpark vir klein besighede. Die D’Almeida-besigheidsentrum is tans ‘n gevestigde permanente struktuur wat 15 klein besighede huisves.
- Hoeveel entrepreneurs vind tans baat by die munisipaliteit se besigheidsentrums?
Daar is tans 60 entrepreneurs wat by die besigheidsentrums sake doen.
- Watter tipe besighede word by hierdie sentrums gevind?
Die besigheidsparke huisves ‘n verskeidenheid van besighede, soos:
- Wegneemetes
- Tradisionele kosse
- Vegetariese kosse
- Biltongverkope
- Verhuring van toerusting
- Haarsalonne
- Manshaarkappers
- Bakkerye
- Motorbandverkope
- Klere- en skoenverkope
- Begrafnispolisse
- Hoekom WERK die besigheidsentrums?
Die besigheidsentrums is in groot aanvraag onder klein besighede, omdat klein besighede nie markverwante huur kan bekostig nie. Die sentrums word deur die munisipaliteit gesubsidieer. Huur wissel van tussen R500 en R850 per maand. Die besigheidsentrums bied klein besighede die geleentheid om hulle besighede uit te brei voordat hulle na groter en duurder besigheidspersele beweeg. Dit gee ook klein besighede die geleentheid om binne bereik van hulle klënte handel te dryf. Die besigheidsentrum is geleë sodat dit gerieflik binne die gemeenskap se bereik is.
- Watter ondersteuning word binne hierdie model aan entrepreneurs gebied?
Entrepreneurs word bekendgestel aan die met die Kleinsake-ontwikkelingagentskap (Small Enterprise Development Agency/SEDA) vir bemarking en ‘n assesering van hulle besighede.
Opleiding word ook gegee insluitend basiese sakevaardighede, finansiële beplanning, digitale bemarking, asook opleiding om tenders te voltooi.
Die munisipaliteit het ook jaarlikse ‘n mentorskap program, waar ‘n mentor aangestel word om vir 3 maande in diepte met elke sake-eienaar te werk en aanbevelings te maak oor hoe hulle hul besighede kan laat groei.
- Hoe kan besighede inskakel by hierdie projek op Groot-Brakrivier?
Aansoekvorms is beskikbaar by die munisipale kantore Groot-Brakrivier.
Kriteria:
- Moet 'n besigheid wees wat reeds handel dryf
- Moet van die huis of stalletjies af handel dryf
Voeg asseblief by jou aansoek:
- Gewaarmerkte afskrif van ID
- Bewys van adres
- Belastingklaringsertifikaat
- Bewys van inkomste (besigheid moet reeds handel dryf)
Vir meer inligting, kontak Sandy Esau (044 606 5000 of sesau@mosselbay.gov.za)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’