Die beskuldigde, Tertius van den Bergh (27), het ontspanne voorgekom toe hy oor die voorval, wat tussen 26 en 27 Augustus 2013 gebeur het, getuig.
Van den Bergh het aan Landros Daniel Boks vertel dat die baba - wat hy vroeër by die biologiese ma, van wie hy besig was om te skei, in Johannesburg gaan haal het - nie wou ophou huil nie.
Die beskuldigde het alleen saam met sy ma in hul huis in Hartenbos gewoon. Hy pleit dat hy ontoerekeningsvatbaar was tydens die beweerde mishandeling.
Van den Bergh het tydens kruisverhoor aan die aanklaer, adv Michelle Weyers, gesê hy kon op die betrokke dag onthou hoe sweet op sy lippe uitgeslaan het en sy ore toegeslaan het. Dit was glo omdat hy onder stres verkeer het.
Van den Bergh het kort na die mishandeling bekendgeraak het, aan die ondersoekbeampte in die saak, Ao Maria Gerber, gesê hy kan onthou hoe hy die baba opgetel het, aan die kante van sy lyfie gedruk het, en geskud het. Hy kan glo nie onthou wat daarna gebeur het nie.
Hier volg 'n uittreksel van die kruisverhoor:
Adv Weyers (Adv W): U het aan Ao Gerber gesê u het u humeur verloor.
Beskuldigde (B): Dis reg, ja.
Adv Weyers: U het op die kind gegil.
B: Ja, my stem was verhef gewees.
Adv W: En hom geskud.
B: Ek het hom so vasgehou, ek het vir hom gesê, "Boeta wat gaan aan".
Adv W: Het u die kind geskud?
B: Nee.
Adv W: Waar kom Ao Gerber daaraan?
B: Ek het hom nie geskud nie.
Adv W: Waar kom Ao Gerber aan dit?
B: Ek weet nie, Edelagbare, maar ek het hom nie geskud nie.
Adv W: Sy't met u gepraat?
B: Sy't met my gepraat, ja.
Adv W: En die enigste persoon op die toneel was u.
B: Dis reg, ja.
Adv W: Sy sê u het aan haar gesê u het die kind geskud... (lang stilte)
B: Dit kon heel moontlik wees dat ek iets net bygevoeg het wat nie so is nie.
Adv W: Hoekom sal u iets byvoeg wat nie so is nie?
B: Ek het regtig net vir * opgetel en gevra wat is fout.
Adv W: Hoekom sal u iets byvoeg wat nie so is nie?
B: Ek weet nie, Edelagbare, ek was onder stres gewees. Dis die eerste keer wat ek in so situasie is en ek het nie geweet wat om te doen nie; ek was angsbevange.
Adv W: Angsbevange om tronk toe te gaan?
B: Daar's te veel druk op my; ek weet nie wat om te doen nie.
Adv W: Meneer, u moet net die waarheid praat.
*Naam weerhou

Die ondersoekbeampte in die saak, Ao Maria Gerber. Sy was een van die eerste mense met wie die beskuldigde na die voorval gepraat het.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'