Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit sê die dorp se drinkwater is veilig, dit ten spyte van Afriforum se jongste blou-en-groendruppelverslag wat aandui dat Mosselbaai se kraanwater volgens Afriforum waarskynlik nie veilig is om te drink nie.
Afriforum het die munisipale drinkwater van 210 dorpe en stede getoets.
Volgens hul verslag voldoen 28 dorpe, waarvan Mosselbaai een is, nie aan die minimum standaard nie.
Afriforum sê dorpe wat nie aan die drinkwatergehalte voldoen nie se water is moontlik met chemikalieë of bakterieë besmet.
Woordvoerder van die munisipaliteit, Cornelle Carstens, sê egter die munisipaliteit het ‘n omvattende operasionele en nakoming van watergehalte moniteringsprogram wat ook die basis vorm vir die maandelikse, kwartaallikse en jaarlikse assesseringsverslae.
“Die waterkwaliteit voldoen aan die minimum vereistes in terme van SANS241-2:2015 met algehele voldoening soos volg vir die 2023/24 finansiële jaar:
- Mikrobiologies – 96%
- Chemies - 100%
- Chroniese gesondheid – 100%
- Esteties - 92,6%
- Bedryfsdoeltreffendheid – 91%.”
Carstens sê die munisipaliteit het 'n algehele bloudruppeltelling van 87.37% behaal vir die vyf waterverspreidingstelsels volgens die departement van water en sanitasie se 2023 bloudruppelassessering.
“Die Mosselbaai-munisipaliteit wil graag die publiek verseker dat die munisipaliteit se drinkwater veilig is vir menslike gebruik en geen gesondheidsrisiko’s inhou nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’