Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - 'n Mansonderwyser van Groot-Brakrivier staar 'n aanrandingsklag in die gesig nadat hy na bewering 'n 11-jarige leerder voor die res van die klas geslaan het.
Polisiebeamptes van die Mosselbaaise eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die onderwyser gedurende die naweek in hegtenis geneem.
Volgens 'n polisiewoordvoerder, sersant Chantel Marais, het die voorval 'n week gelede by die Groot-Brakrivier Primêre Skool gebeur.
Marais sê die graad 6-leerder het aan die polisie gesê dat die onderwyser hom met 'n rottang in die klaskamer voor ander leerders geslaan het.
Volgens Marais het die kind eers oor die voorval stilgebly, maar sy ouers twee dae nadat dit gebeur het, daarvan vertel.
Die polisie het bevestig dat die leerder vir 'n mediese ondersoek geneem is waarna die onderwyser inhegtenis geneem is.
Die verdagte is op 'n waarskuwing vrygelaat om op die 26 September in die landdroshof op Groot-Brakrivier te verskyn.
Die woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, Paddy Attwell het bevestig dat die skool die voorval aan die departement gerapporteer het.
"Die departement beskou die beweerde voorval in 'n baie ernstige lig en die bewerings word ondersoek."
Lees 'n vorige artikel: Teacher allegedly beat child with cane
'Ons bring jou die nuutste Grootbrak-Rivier, Tuinroete nuus'