Update
MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van die protestoptrede waaronder Mosselbaai onlangs onderbuk gegaan het, wil die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, alle inwoners en rolspelers bedank vir hul samewerking.
In 'n persverklaring spreek raadsheer Levendal sy dank uit teen veral vrywillige organisasies, onder meer die onderskeie buurtwagte vir hul bydrae.
Raadsheer Levendal stel Mosselbaai-inwoners gerus dat die munisipaliteit alles in sy vermoë doen om soortgelyke situasies te voorkom. Daarom is deurlopende onderhandelings en betrokkenheid deur al die belangrike rolspelers en die gemeenskappe wat geraak word uiters noodsaaklik.
Die munisipaliteit het volle begrip vir en begryp die omvang en impak van die onlangse protesoptrede op inwoners, organisasies en besighede in die munisipale gebied.
Aslapark
Voorvalle van geweld in Aslapark het veroorsaak dat Louis Fourieweg twee dae lank gesluit was en die gemeenskap van Danabaai vir die meestal nie die woonbuurt kon verlaat nie.
Om die protes te ontlont het 'n munisipale afvaardiging onder leiding van raadsheer Levendal 'n openbare vergadering op 24 Julie met die gemeenskap van Aslapark gehou. Die versoekskrif met die protesteerders se griewe is bespreek.
Later dieselfde middag is daar met sowat 17 verteenwoordigers van die Aslapark-gemeenskap vergader om werkbare oplossings te probeer vind vir die griewe.
Lys van griewe
Daar is ooreengekom dat 'n opvolggesprek op 7 Augustus sal plaasvind waarneer die munisipaliteit amptelik aan die Aslapark-gemeenskap terugvoer sal gee op elk van die griewe.
Van die griewe waarvoor werkbare oplossings, in belang van die groter Mosselbaai, gevind moet word, is:
- Dat grond aan persone wat die grond besit nie, toegekenmoet word
- Dat erf 2001 (die area waar onder meer die nuwe begraafplaas geleë is) gediens moet word vir die vestiging van informele nedersettings en agterplaasbewoners
- Dat water en krag nie afgesny word na diegene wat wel betaal nie
- Dat kragbokse wat verwyder is teruggeplaas moet word
- Dat die 2017-18 geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings (GOP) herskeduleer moet word en die normale kanale gevolg moet word om die gemeenskap daarvan in te lig
- Dat kragonderbrekings na formele huise geleë langs informele nedersettings gestaak moet word
- Dat gratis eenhede krag en gratis water toegeken moet word sonder dat krag eers aangekoop moet word
- Dat lae-inkomste huishoudings en die wat staatstoelaes ontvang hul munispale dienste gratis moet ontvang
- Dat die betrokke gemeenskap krag direk vanaf Eskom aankoop
- Dat ondersteuning gebied word aan klein sakeondernemings
- Dat die taxibedryf ondersteun en betrek word by plaaslike ekonomiese ontwikkelingsbeplanning
- Dat die werkloosheidsyfer verminder en Wyk 3 betrek word by beplanning
- Dat die hoë syfer dwelmverbruikers in die wyk met jeugprogramme ondersetun word
- Dat die oprigtingsproses van die Aslapark-taxistaanplek ondersoek word.
Die gemeenskap het die volgende dag, 25 Julie weer by die KwaNonqaba-polisiekantoor saamgetrek. Met onmiddellike ingryping en onderhandelings is dié situasie, waar aangedring is op die ontslag van diegene wat tydens die geweldadige onlus gearresteer is, ontlont en die skare is vreedsaam uiteen. Die situasie word deurlopend gemonitor.
Danabaai
Veral Danabaai-inwoners is deur die protesoptrede geraak omdat die toegangsroete daarheen gesluit moes word. Dit het groot ontwrigting vir die hele gemeenskap meegebring.
Die munisipale amptenary ondersoek die moontlikheid van 'n toegansgroete vanaf die N2 en sal meer volledig hierop terugrapporteer wanneer meer inligting beskikbaar is.
Die provinsiale regering is reeds op politieke vlak ingelig van hierdie uitdaging wat dringende aandag verg.
Brandwag
Tegelyketyd het protesoptrede in die Brandwag-omgewing meegebring dat die R328, die pad na Oudtshoorn gesluit moes word.
Raadsheer Levendal en sy afvaardiging het die gemeenskap van Brandwag te woord gestaan om die situasie te ontlont, maar dit het nie goed afgeloop nie en die polisie moes tussenbeide tree. Sedertdien is 'n opvolgvergadering op Maandag, 30 Junie met gemeenskapsleiers gehou wat in 'n baie goeie gees verloop het.
Groot-Brakrivier
Die staking deur die werkers van die Watson-skoenfabriek word deurlopend deur die polisie op Groot-Brakrivier gemonitor.
Gebiedsveiligheidsplan
Die konsepveiligheidsplan vir die groter Mosselbaai munisipale gebied is reeds deur die raad aanvaar. Dit sal vervolgens met die onderskeie rolspelers tydens 'n vergadering in Augustus bespreek word.
Lees 'n verwante artikel: Update: Meeting with protesters
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'