MOSSELBAAI NUUS - Dit is seer sekerlik makliker om die uitdagings binne die sakewêreld te verstaan as jyself al ‘n onderneming bestuur het.
Waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, self ‘n entrepreneur en sakeman, het uit hoofde hiervan gestalte aan ‘n projek gegee wat inwoners opnuut aanmoedig om plaaslike ondernemings te ondersteun.
Die projek word genoem, Mossel Bay Cares.
“Mosselbaaiers se omgee vind uitdrukking daarin dat hulle plaaslik ondersteun. Dit sluit in plaaslike besighede, entrepreneurs en organisasies sonder winsbejag wat danksy die inwoners, daarin slaag om steeds kop bo water te hou ondanks 'n uitdagende ekonomie,” meen Kotzé.
Kotzé het Vrydag, 6 Augustus die eerste stap in die bekendstelling van die inisiatief geneem deur plaaslike besighede in Da Nova en Groot-Brakrivier te besoek.
Met die oog op Vrouemaand, het Kotzé ‘n radiologiepraktyk in Da Nova, wat as deel van hulle algemene aanbieding, spesifiek op die behoeftes van vroue fokus, besoek.
Dr Henry Bartlett het tydens die besoek verduidelik dat die Covid-19-pandemie ‘n buitengewone uitdaging vir onkologiepasiënte bied, juis wat voorkomende sorg betref. Volgens Bartlett, ondervind hulle dat veral pasiënte hul voorkomende en opvolgsorg tydens Covid-19 nie nougeset bybring nie.
"Ons het die eiendom geruime tyd gelede aangeskaf en besef dat die uitdagings van Covid-19 die behoefte aan 'n toegewyde praktyk onderstreep,” verduidelik Bartlett.
Vrouepasiënte kan in ‘n rustige atmosfeer, waar hulle privaatheid voorop gestel word kom vir mammografie, beendigtheidstoetse en x-strale en skanderings.
Kotzé het Bartlett en sy vennote bedank vir hul ruim investering, ten spyte van die pandemie.
“Die nuwe praktyk strook met die munisipaliteit se visie om 'n mediese nodus in Da Nova te vestig. Mosselbaai is bevoorreg dat voorkeurspesialispraktisyns hul praktyke in ons dorp vestig en uitbrei ondanks die uitdagings van die pandemie, wetgewing en die swak ekonomie. Dat julle ons gemeenskap se vroue voorop stel is 'n pluimpie vir hul ingesteldheid en duidelike omgee vir ons dorp," het Kotzé gesê.
Dr Henry Bartlett (links) beduie na die mammogram-masjien terywl waarnemende burgemeester, Dirk Kotze toekyk. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'