MOSSELBAAI NUUS - 'n Pragfoto met 'n mooi storie daaragter, het vandeesmaand met die louere weggestap by die Rauch Gertenbach-fotogalery. Die foto getiteld, Slurpe is geneem deur dr André du Plessis.
"Die teeltroppie het by die watergat aangekom. Die betrokke watergat is egter afgesper met hoë geëlektrifiseerde drade juis om die olifante uit te hou aangesien hulle die watergate totaal domineer, veral in droë tye. Ander diere kan dus maklik onder deur die drade loop.
"Die klein olifantjies sou kon deurgaan maar is deur die matriarg gekeer nadat sy eers getoets het of die drade geëlektrifiseer was deur met haar voorkop daaraan te raak. Hulle het toe bietjie by die oorloop gedrink en is toe doelgerig daar weg, waarskynlik na 'n ander watergat," verduidelik dr Du Plessis.
Alle fotograwe word genooi om maandeliks die galery-aande by te woon elke derde Donderdag van die maand.
Die geleentheid word gehou by die kantore van Rauch Gertenbach Prokureurs om 18:00, Kerkstraat 10.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'