TUINROETE NUUS - Die grootouers van 'n bekende gesig by die Outeniqua-rolbalklub, Daniël Venter (32), treur nadat Venter verlede Sondag by Heroldsbaai verdrink het.
Venter was die afgelope paar jaar werksaam as 'n algemene werker by die klub.
Die oorledene, wat bekend staan as Niël, was saam met sy jonger broer, Abri, en 'n vriend op 'n uitstappie na die gewilde strand toe die voorval omstreeks 15:00 plaasgevind het.
Volgens Venter se oupa wat op Reebok bly, Sarel du Plessis, het hy en sy vrou Wilna vroeër daardie dag by hul dogter, Carissa Venter, en hul drie kleinseuns middagete geniet. "'n Vriend van Abri het kom kuier en die seuns het besluit om 'n draai op Heroldsbaai te gaan maak," het Du Plessis gesê.
"Dit lyk my hy (Niël) het in 'n seestroom beland en toe paniekerig geraak. Hy het glo vir Abri, wat saam met hom geswem het, gesê hy gaan saam met die dolfyne swem. Abri het hom gewaarsku om nie te diep in te gaan nie."
Lewensredders van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is ontbied toe dit rugbaar word dat Venter in die moeilikheid is. NSRI-woordvoerder, Craig Lambinon, het bevestig dat Venter deur lewensredders na die strand gebring is, waarna kunsmatige asemhaling onmiddellik toegepas is.
"Dit was egter tevergeefs, hy was klaar weg," het Venter se oupa gesê.
Du Plessis sal sy oudste kleinkind altyd onthou as 'n persoon wat vir sy werk geleef het en wat baie gelief was deur diegene wat hom geken het.
"Niël het die dorp platgery met sy fiets. Dit is hoe mense hom altyd gesien het. Hy was baie lief vir tuinwerk, en daarom het ons besluit om vir hom 'n roosboom te plant en sy as daar te strooi."
'n Roudiens word vandag, Vrydag 13 September, vir Venter by die Afrikaanse Baptiste Kerk in George gehou.
Venter word oorleef deur sy ma, Carissa Venter, twee jonger broers, Sarel en Abri en sy ouma en oupa, Wilna en Sarel du Plessis.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'